
’n Groot seder het geval met die afsterwe van die bekende koringteler, dr. Hugo van Niekerk, sê prof. Klaus Pakendorf en dr. Francois Koekemoer, twee jarelange kollegas.
Hulle het in ’n mediaverklaring hulde gebring aan Van Niekerk, wat diep spore in Suid-Afrika se koringgeskiedenis getrap het en onlangs, enkele dae voor sy 70ste verjaardag, aan leukemie oorlede is.
Van Niekerk, wat ná sy aftrede by die Landbounavorsingsraad se Kleingraan-instituut by Bethlehem na sy geboortedorp, Kakamas, teruggetrek het, was internasionaal bekend en het deur die jare die wêreld deurkruis om net die beste kiemplasma vir Suid-Afrikaanse koring-teelprogramme te bekom.
Hy is onder meer deur die internasionale koring- en mielie-organisasie CIMMYT met ’n oorkonde vereer vir sy uitstaande bydrae tot internasionale koringverbetering.
Plaaslik was hy betrokke by die vrystelling van 25 nuwe kleingraan-kultivars, onder meer die koringkultivar Palmiet, wat in ’n stadium op meer as 40% van die totale koring-oppervlakte in die Wes-Kaap geplant is.
Nadat hy op Kakamas afgetree het, was hy boer, mentor en lid van verskeie landbou-organisasies en -komitees in die sagtevrugte-, druiwe- en rosyntjie-bedryf.
Vroe?r in sy loopbaan het sy passie vir sito-genetika vir M.Sc- en Ph.D-verhandelings gesorg, wat baanbreker-bydraes tot planteteelt in Suid-Afrika en die res van die wêreld gelewer het, sê Pakendorf en Koekemoer.
Van Niekerk word deur sy vrou, Adelé, oorleef, asook drie kinders, Amelia van Botswana, Louise van Jan Kempdorp, en Johannes van Kakamas.
4 Mei 2011