Langeberg & Ashton Foods (L&AF) op Ashton, wat in 1940 as Langeberg Koöp sy deure geopen het, verwerk 55% tot 60% van Suid-Afrika se inmaakvrugte. Die lewensbestaan van sowat 6 000 fabrieks- en plaaswerkers is in gedrang as dié fabriek gesluit word. L&AF verskaf onder meer inmaakvrugte vir die ikoniese KOO-handelsmerk, en voer inmaakvrugte en vrugtepuree na onder meer Europa, China, Australië en Japan uit.
Tiger Brands het op 9 Junie aangedui hy onderhandel met permanente en seisoenale werknemers van L&AF oor die toekoms van dié fabriek, want hy sien nie ’n lewensvatbare manier om van die fabriek ontslae te raak nie.
“Sowat 300 produsente in die Klein-Karoo, Ashton, Robertson, Bonnievale, Breërivier, Wolseley en Ceres gaan onmiddellik sonder ’n heenkome wees vir hul inmaak-perskes, -pere en appelkose. Bykans 2 250 ha boorde, veral taaipitperskes, Bulida-appelkose, vroeë Bon Chretien- en Bon Chretienpere, sal uitgehaal moet word. Baie produsente sal nie finansieel oorleef nie,” het mnr. Jacques Jordaan, uitvoerende hoof van die Inmaakprodusentevereniging (IPV), gesê.