
“Suid-Afrika het ’n groot tekort aan botter,” het mnr. Jacques van Heerden, hoof van regs-, sekretariële en menslike hulpbronne by Clover, by navraag gesê.
Volgens hom is dit deels toe te skryf aan die groter vraag na botter, asook verbruikers se groot verskuiwing van laevet- na hoëvet-drinkmelk, “beide weens die bewese gesondheidsvoordele van dierevette”.
Van Heerden sê minder room is dus eskikbaar om botter van te maak.
Pick 'n Pay bevestig tekort
Mnr. Brian Austin, hoof van kruideniersware en bederfbare produkte van Pick ’n Pay, het die tekort bevestig: “Die land ervaar ietwat van ’n tekort aan botter, deels weens seisoenaal is, omdat koeie in die winter geneig is om minder melk te lewer.” Austin beaam dat minder room beskikbaar is weens verbruikers se groter voorkeur vir volroomprodukte.
Shoprite Checkers sê ook die groep ontvang tans minder voorraad van plaaslike vervaardigers. “Die mark ervaar ’n toenemende vraag na botter teenoor margarien, asook na volroom- teenoor afgeroomde melk.
“Dit kan toegeskryf word aan ’n groeiende verbruikersvoorkeur vir volroom- en meer heelsame produkte, asook ’n laer melkvoorraad soos wat die winter nader kom.”
Verkies plaaslike botter
Beide Pick ’n Pay en Shoprite Checkers sê hulle verkies om eers plaaslik te koop, voordat hulle invoer oorweeg.
Austin sê invoer word as laaste uitweg gebruik en Checkers sê hy oorweeg invoer eers wanneer dit nodig is, of as daar ’n prysvoordeel vir die verbruiker is.
“Die hoë prys van ingevoerde botter maak invoer op groot skaal nie tans ’n haalbare opsie nie,” het die groep in antwoord op vrae gesê.
Hoe lank?
Van Heerden sê dit is onseker hoe lank die tekort gaan duur.“Ons botter het ’n beproefde resep wat oor baie jare ontwikkel is. Omdat ingevoerde produkte nie aan ons gehaltevereistes voldoen nie, is ons huiwerig om in te voer.
“As die vraag voortgaan om die aanbod te oorskry, sal pryse na alle waarskynlikheid styg,” sê Van Heerden.