
Dr. Johan van Rooyen, staatsveearts en dosent by Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut (GLOI), het ná 'n skorsing van meer as sewe maande teruggekeer na sy pos by dié kollege, te midde van 'n steeds hangende appèlproses in die saak teen hom.
Die dissiplinêre kode vir die staatsdiens bepaal dat staatsdienswerkers binne 30 dae vanaf appèl moet terugkeer na werk. Die appèl het gevolg op Van Rooyen se skuldigbevindiging op vyf klagte wat sentreer rondom 'n magstryd tussen die PSA-vakbond (Public Servants Association) en die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu) op die kampus.
Van Rooyen het 'n klag by die Staatsdiensbemiddelingsraad ingedien waarin hy beweer hy is onregverdig geskors. Die arbiter van sy saak het beveel dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) die saak teen 6 Desember moes afhandel.
DAFF het dié bevel geignoreer deurdat die dissiplinêre saak steeds hangend is. Van Rooyen se klag is geskeduleer om op 3 April deur die Staatdiensbemiddelingsraad aangehoor te word.
Geldmors
Van Rooyen het sy volle salaris ontvang vir die sewe maande van sy skorsing, terwyl hy nie sy werk as dosent en veearts kon voortsit nie. Volgens die staatsdiens se reëls mag 'n voorlopige skorsing nie bestraffend van aard wees nie.
Intussen word die Regering al meer gekritiseer vir sy trae hantering van dissiplinêre sake teen staatsdienswerkers. 'n Onlangse navraag in die Parlement het onthul dat 69 staatsdienswerkerts op 1 April 2016 vir meer as ses maande geskors was met dissiplinêre aksies hangend teen hulle.
Die koste aan salarisse vir dié groep werkers het R136,5 miljoen rand beloop. Van dié werkers was vier vir meer as 'n jaar geskors en vyf vir meer as twee jaar. Die DA het die ondoeltreffendheid van die staat in 'n verklaring betreur.
"Dit is skokkend dat soveel geld gemors word omdat staatsdepartemente nie daarin kan slaag om dissiplinêre sake doeltreffend af te handel nie," lui die verklaring.