
Klasse by die Landbou-ontwikkelingsinstituut Grootfontein het vandeesweek begin sonder dr. Johan van Rooyen, gerespekteerde staatsveearts en senior dosent. Van Rooyen is meer as ’n maand ná sy tugverhoor, waarin hy op vyf twyfelagtige klagte skuldig bevind is, amptelik ingelig van die bevinding teen hom.
Hoewel hy binne dae ná sy verhoor op 20 Desember deur die voorsitter van die dissiplinêre verhoor oor die bevinding in kennis gestel is, het amptenare daarop aangedring dat hy eers kon appelleer nadat hy “amptelik” in kennis gestel is.
Van Rooyen het bevestig dat hy nou wéér geappelleer het. “Die minister het 30 dae om die appèl te oorweeg. As ek nie binne 30 dae ’n antwoord kry nie, moet ek terugkeer werk toe en wag dat die appèl afgehandel is. Daarná sal die sanksie toegepas word.”
Sy stryd met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye duur die afgelope ses maande omdat die departement nie sy eie reëls rondom staatsdiens-arbeidsake nakom nie. ’n Kat-en-muis-speletjie deur amptenare van die departement rek die proses verder uit.
Van Rooyen het sy frustrasie teenoor Landbou.com uitgespreek. “Myns insiens bestaan geen rasionele of wettige rede vir my voortgesette skorsing nie. Ek is vandag (31 Januarie) vir 195 dae geskors, terwyl die dissiplinêre kode ’n maksimum van 60 dae toelaat. Dit is nogal ’n groot bedrag wat die staat vrugteloos op my salaris bestee.”
Dispuut verklaar
Hy is in Desember ingelig dat die sanksie teen hom behels dat hy geskrewe waarskuwings ontvang en dat sy posvlak verlaag sal word. Sy versoek om duidelikheid rondom wat sy nuwe pos sal wees, is steeds onbeantwoord.
Van Rooyen het ook ’n dispuut by die Staatsdiensbemiddelingsraad verklaar oor sy skorsing en die saak is op die rol geplaas vir 3 April.
Mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê hy het die saak onder Agri SA se aandag gebring. Volgens Stern verrig Van Rooyen broodnodige dienste aan boere en die landbougemeenskap in sy streek en ly Grootfontein-studente se opleiding ook onder dié situasie.
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, beoog om die saak met mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal, op te neem in die hoop om ’n spoedige oplossing te vind.