Die grootste grondeis teen ’n enkele eienaar in die land gaan deur die staat laat vaar word.
Twee stamme het 20 000 ha in KwaZulu-Natal ter waarde van meer as R1 miljard geëis. Dié grond behoort aan mnr. Charl Senekal, medevoorsitter van die Pro-Agri Forum (die vereniging wat boere verteenwoordig wat as Suid-Afrikaanse Boer van die Jaar bekroon is).
“Nou kan ek weer voluit met my boerdery aangaan,” het ’n verligte Senekal gesê.
Hy het aan Landbouweekblad gesê hy is deur ’n advokaat van die grondeisekommissaris in dié provinsie verwittig dat hulle die eis gaan laat vaar. Hy gaan die boerdery nou voluit verder ontwikkel en het reeds met planne begin om nóg 1 000 ha grond onder suikerriet te vestig. Hy verbou reeds 4 000 ha suikerriet onder besproeiing.
Hy is die land se grootste private produsent van suikerriet.
Wat behels die eis?
Twee stamme het die eis sowat nege jaar gelede op ’n groot aantal van Senekal se plase tussen Mkuze en Pongola ingedien. Die eerste eis is deur die Gumbistam teen ál Senekal se grond noord van die Mkuzirivier ingestel, terwyl die Myenistam grond suid van die rivier geëis het.
Senekal het twee volkekundiges aangestel om die geldigheid van die eise te ondersoek. Hul bevinding was dat die eisers nooit die eienaars van Senekal se grond was nie. Die grond is reeds sedert 1880 in blanke besit.
Die grondeisekommissaris moes al by twee geleenthede in die grondeisehof verskyn om te verduidelik, maar het nie opgedaag nie. Sy verweer was dat hulle nie geld het om hul regspanne te betaal nie.
Volgens Senekal het hy van die begin af die regte proses met sy regspan gevolg in hul stryd om te bewys dat die eis onwettig is. “Ek het nog volle vertroue in die Suid-Afrikaanse howe,” het hy gesê.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 5 November.
1 November 2010