
Die prys van elektrisiteit het die afgelope paar jaar met gemiddeld 10% gestyg en in die toekoms gaan dit net duurder raak, daarom “boer” die bekende Senekal Boerdery deesdae ook met energie.
Die Senekal Boerdery van Mkuze is Suid-Afrika se grootste suikerrietprodusent, maar ook die grootste verbruiker van elektrisiteit in die primêre landbou. Die boerdery se kragrekening is meer as R2 miljoen per maand.
“Ons kry die meeste pak deur die ondoeltreffende manier waarop Eskom kragvoorsiening bestuur. Die twee kragsentrales in aanbou is drie jaar laat, so ons gaan nog baie jare lank met elektrisiteit spook.
"Ons het besluit water en krag is ons lewe en ons moet maniere kry om goedkoper water te pomp en nat te lei,” het mnr. Charl Senekal aan die sowat 220 boere by Landbouweekblad se konferensie om oplossings vir die landbou te vind, gesê.
Sy seun André, hoof van spesiale projekte in die boerdery, het met ’n plan vorendag gekom om die suikerriettoppies en blare in ’n kragfabriek te brand en dan die krag teen R1,40 per kWh aan Eskom te verkoop. Hulle het ’n 20-jaar ooreenkoms met Eskom gesluit. Die boerdery mag volgens ’n IPP-tenderproses (vir onafhanklike kragvoorsieners) 15,5 mW opwek.
“Anders as son- en windkragprojekte wat sekere tye stilstaan, loop die projek 24 uur per dag vir omtrent elf maande van die jaar.”
Hulle kry sowat 25 ton suikerrietreste per ha wat feitlik nutteloos is. Dis soortgelyk aan 10 ton steenkool per ha per jaar, wat R7500 se addisionele inkomste net vir die afvalmateriaal beteken.
“Die omset wat die blare in die kragfabriek gaan genereer, is soortgelyk aan die waarde van die suikerrietstronk self. Dit hoef ook nie op so ’n groot skaal gedoen te word om lonend te wees vir die boer nie.”
* Hou Landbouweekblad dop vir ’n artikel oor die Senekals se bio-energie-aanleg, sonkragplase en ander planne om hernieubare krag te produseer.