
Statistieke wat pas deur Cape Wools uitgereik is, toon dat die totale produksie vir 2013/’14 met 3,3% teenoor die vorige seisoen tot 50,5 miljoen kg gestyg het – die eerste keer sedert 1998/’99 dat dit die kerf van 50 miljoen kon verbysteek. Dit is in teenstelling met die meeste ander belangrike woluitvoerlande waar produksie steeds daal.
Die drie landdrosdistrikte wat die meeste wol geproduseer het en ook die enigstes in die land is wat meer as ’n miljoen kg wol gelewer het, is Caledon (1 357 729 kg), Bredasdorp (1 342 641 kg) en Swellendam (1 222 608 kg). In die Oos-Kaap was Barkly-Oos (936 430 kg) die grootste wolprodusent.
Die Vrystaat se grootste distrikte was Vrede (767 662 kg), Frankfort (742 523 kg) en Harrismith (724 056 kg). Die top-distrik in die Noord-Kaap was Victoria-Wes (860 606 kg).
In Mpumalanga, waar wolproduksie die afgelope aantal jare drasties afgeneem het, hoofsaaklik weens mynbedrywighede en veediefstal, was Ermelo die enigste distrik wat ’n noemenswaardige hoeveelheid wol geproduseer het (859 748 kg). Wakkerstroom was die naasgrootste (366 763 kg), gevolg deur Standerton (334 082 kg).
Produksie in KwaZulu-Natal het die afgelope jare gedaal. Mount Currie was die topdistrik met 349 365 kg.
Die Oos-Kaap was weer die grootste wolproduserende provinsie met 15,5 miljoen kg, gevolg deur die Vrystaat (10,3 miljoen kg), die Wes-Kaap (9 miljoen kg) en die Noord-Kaap (6 miljoen kg). Mpumalanga het 2,6 miljoen kg geproduseer.