’n Groter mielie-oes word aanstaande jaar verwag, met boere wat aandui dat hulle meer hektare gaan aanplant as in vanjaar se planttyd.
Luidens die mees onlangse oesskattingsverslag gaan boere na verwagting 1 564 miljoen ha wit mielies plant, wat 10,3% meer is as in die vorige planttyd.
Wat geel mielies betref, gaan 1 038 miljoen ha beplant word, wat sowat 8,8% meer is as in die vorige planttyd. Oor die algemeen word verwag dat mielie-aanplantings 9,7% hoër gaan wees as in vanjaar se planttyd.
Redes
Boere skryf volgens die opname wat in middel Oktober voltooi is, die toename in die beoogde mielie-aanplantings hoofsaaklik toe aan gunstiger pryse, vergeleke met dieselfde tydperk ’n jaar gelede. Bo-gemiddelde of laat reënval kan boere se besluite oor aanplantings nog beïnvloed.
Wat die verwagte aanplantings van sonneblomsaad betref, is ’n daling van 555 000 ha of 13,7% vergeleke met verlede jaar aangeteken. Voorgenome sojaboon-aanplantings toon ’n toename van 10 % vergeleke met die vorige planttyd, vanaf 418 000 ha tot 460 000 ha.
Die skattings vir die grootte van somergewas-oeste vir vanjaar sal op die komitee se vergadering op 1 Desember afgehandel word.
Kleiner koring-oes
Intussen het die verwagte koring-oes vir dié are wat tans op die landerye staan met 3,21% tot 1 842 miljoen ton gedaal. Die vorige oesskatting was 1 903 miljoen ton.
Die daling kan grootliks aan ongunstige weerstoestande en droogte in sommige provinsies toegeskryf word. Die verwagte produksie in die Wes-Kaap het met 26 500 ton tot 636 000 ton gedaal, terwyl die verwagte produksie in die Vrystaat 551 250 ton is.
Dít is 33 750 ton laer as die vorige skatting. Die verwagte produksie vir die Noord-Kaap is onveranderd op 273 000 ton gelaat.
26 Oktober 2011