
’n Soektog is aan die gang na meer as 100 donkies aan die grens met Lesotho naby Underberg in KwaZulu-Natal.
Dit het gebeur nadat 35 donkie-karkasse in 'n stuk veld tussen die Suid-Afrikaanse grenspos en die Lesotho grenspos, bekend as Twin Springs, in die laaste week van Januarie gevind is.
Volgens mnr. John Pierce van die Underberg Community Watch, is die velle van hierdie donkies glo lewendig afgeslag. “ Die donkies het ’n wond in die rugmurg net agter die skedel, wat die diere verlam laat. Die velle word dan afgeslag en, volgens die inligting wat ons het, vir tot R7 000 ’n vel na China uitgevoer.
Meer as 140 donkies
“Die inligting wat ons insamel wissel effens, maar tussen 140 en 200 donkies is in ’n kraal aangehou op hierdie perseel waar die 35 karkasse gevind is. Toe weer die volgende dag ondersoek ingestel word, was die donkies skoonveld en die vermoede is dat hulle in Lesotho ingeneem is,” sê Pierce.
Die LUR vir landbou in KZN, mnr. Themba Mthembu was geskok deur die bloeddorstigheid van die slagting van dié donkies. (Sien sy verklaring in die aanhangsel hieronder.) “Hier is ’n skielike toename in die jag én slag van donkies deur mense wat gierig is en hulself wil verryk op onwettige en wreedaardige wyses,” sê Mthembu.
’n Boer wat in Underberg woon, maar wat anoniem wil bly, meen dit is ’n interessante toeval dat hierdie bedrywighede skielik begin toeneem het toe 'n Chinese werksmag, wat besig is om paaie in Lesotho te bou en teer, al hoe nader aan die Sani-pas gewerk het.
Volgens The Witness-koerant word jelatien uit die velle onttrek in China, wat dan gebruik word as middels vir geheueverlies, teen veroudering en verbeterde bloedsomloop. Die koerant berig ook dat twee mense, ’n man en vrou, in hegtenis geneem is en die Nasionale Dierebeskermingsvereniging het ’n klag van dieremishandeling teen hulle aanhangig gemaak toe hulle op heterdaad betrap is besig om ’n donkievel af te slag. Die paar is nie borgtog ontvang nie en hul saak kom weer op 6 Februarie in Himeville voor.