Die onsekerhede wat tans in die landboubedryf heers, is die hooftema vir Graan SA se kongres vanjaar. Die kongres vind op Woensdag en Donderdag, 9 en 10 Maart, op Nampo-park, buite Bothaville, plaas. Die tema vir die kongres is “Gerat vir die toekoms”.
Die organisasie meen ’n nuwe denkwyse moet ontwikkel word om die uitdagings van die tyd teen te staan, en dit is waarop gefokus sal word.
Gespreksforum
Op die eerste dag van die kongres sal afgevaardigdes en gaste deel vorm van ’n gespreksforum. Van die gaste sluit in mnr. Rick Tolma, hoofbestuurder van die National Corn Growers Association van Amerika, prof. Mohammad Karaan, die dekaan van die Fakulteit Landbouwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, mnr. Zweli Manyathi, die direkteur van mid-korporatief- en besigheidsbankdienste by Standard Bank en mnr. Quintin Coetzee, ’n motiveringspreker.
Op die tweede dag van die kongres word op huishoudelike sake gefokus, waartydens die onderskeie werkgroepe binne Graan SA wegbreeksessies sal hou om bedryfspesifieke kwessies te bespreek.
8 Maart 2011