
Die Nasionale Oesskattingskomitee se voorspellings vir dié seisoen se koring-oes gaan nie realiseer nie, meen Graan SA.
Mnr. Andries Theron, ondervoorsitter, sê weens die droogte en laat reën in veral die Oos-Vrystaat verwag hy dat die oes tussen 1,5 miljoen ton en 1,6 miljoen ton sal wees teenoor die skatting van rondom 1,9 miljoen ton.
Die land sal moontlik tussen 1,4 miljoen ton en 1,5 miljoen ton koring moet invoer. “Die droogte en die baie laat reën het ’n groot impak op opbrengste en die gehalte van die opbrengste gehad. Boere in veral die Oos en Wes-Vrystaat sê hulle oeste is nie so goed soos verwag nie,” verduidelik Theron.
Oranjerivier
Hoewel boere in die Oos-Vrystaat oeste van sowat 1,5 ton per hektaar of minder aangeteken het, is boere in die besproeiingsgebiede van die Oranjerivier baie opgewonde oor rekord-oeste.
Theron sê: “Van die boere langs die Oranjerivier, van Hopetown af op, is baie opgewonde oor reuse-oeste. Dit is gewoonlik so dat dié boere onder besproeiing oeste van tot 9 ton per hektaar kan aanteken. Van hulle het dié seisoen egter oeste van tot 11 ton per hektaar.”
Wes-Kaap
Intussen is Theron bekommerd oor ’n neiging wat in die Wes-Kaap voorkom. Hy sê weens die hoë prys vir geel mielies word koring van ’n goeie gehalte vir veevoer aangekoop en gebruik.
“Dit is hartseer om te hoor dat broodkoring van ’n goeie gehalte tans vir veevoer benut word. Dit kan grootliks aan die pryssituasie toegeskryf word,” vertel Theron.
Hy voorspel dat, as die internasionale neigings van koringproduksie in ag geneem word, sal dié verskynsel in die toekoms al hoe meer kan voorkom.
9 Januarie 2011