
Gunstige uitsprake is deur genooide sprekers op Mpumalanga Landbou se kongres oor die nuwe Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, mnr. Senzeni Zokwana, gemaak.
Mnr. Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, het gesê hy verneem daar was nie stakings toe Zokwana ’n vakbondleier was nie. Hy is 'n goeie onderhandelaar.
Dr. Theuns Eloff, voormalige rektor van die Noordwes-Universiteit, het gesê antwoorde wat hy oor die nuwe minister gekry het, dui daarop hy is “slim en 'n goeie onderhandelaar”. Hy het iets van mnr. Cyril Ramaphosa, Suid-Afrika se nuwe visepresident, se charisma en is “iemand met wie 'n mens kan praat”.
Prof. Anthoni van Nieuwkerk, politieke wetenskaplike aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê die kans is skraal dat Zokwana en sy adjunkminister, mnr. Bheki Cele, “op loop sal gaan met ander planne vir die landbou”. Bepaalde planne vir die landbousektor is reeds opgestel waaraan hulle moet aandag gee.