
Die Vrystaatse departement van landbou se sake is deurspek met finansiële ongerymdhede en die versuim van die departement om sy jaarverslag vir die boekjaar 2015/’16 ter tafel te lê, wys dat die bewering rakende die befondsing van die Gupta-troue deur middel van die Vrede-suiwelprojek heel moontlik waar is.
Só sê mnr. Wouter Wessels, Vryheidsfront Plus (VF Plus)-wetgewerlid in die Vrystaatse Wetgewer, nadat die departement saam met die ouditeur-generaal (OG) voor die wetgewer se komitee oor Openbare Rekeninge en Finansies verskyn het.
Weens wanbestuur, gebrek aan rekordhouding en behoorlike finansiële kontroles kan die departement hoegenaamd nie met sekerheid sê wat met openbare fondse aangekoop is nie, sê Wessels in ’n verklaring. “Plase en implemente kan na alle waarskynlikheid aan die Guptas behoort of deur hulle verkoop word, sonder dat ons dit weet,” waarsku hy.
Die komitee het die departement gekruisig oor sy versuim om sy jaarverslag vir die 2015/’16-boekjaar, wat reeds in 2016 ter tafel gelê moes word voor te lê. Die verslag is steeds nie deur die departement ter tafel gelê nie, omdat hy 'n dispuut met die OG verklaar het en weier om die dispuut te laat vaar. Die OG het egter die verslag gepubliseer, soos deur die OG-wet bepaal word.
LEES OOK: Zwane voor stok oor melkplaas by Vrede?
Dispuut met OG
Die kern van die dispuut handel oor die oorbetaling van openbare fondse aan implementeringsagente, soos Estina (Edms) Bpk, ’n maatskappy met Gupta-bande, sonder dat die nodige verantwoordbaarheid vereis of afgedwing is.
Uitgawes met betrekking tot ontwikkelingsprojekte, soos die Vrede-suiwelprojek, word deur die departement as “oordragte” geklassifiseer en dus word bates en goedere deur die agente wat ten opsigte van die betrokke projekte aangekoop is nie in die finansiële state aangedui nie.
Wessels sê die departement weier om die dispuut te laat vaar en die verslag ter tafel te lê. “Dit is presies hoe die Vrede-suiwelprojek vir 'n Gupta-troue betaal het en is waarskynlik nie die enigste van sy aard nie.”
Die OG het onder meer bevind dat R300 miljoen wat aan implementeringsagente vir ontwikkelingsprojekte, soortgelyk aan die Vrede-suiwelprojek, uitbetaal is, bloot as oordragte geklassifiseer is. Hierdie uitgawes is egter aangegaan om roerende en onroerende bates, soos byvoorbeeld plase, te koop, maar die bates is glad nie geklassifiseer nie. Daar is dus geen rekord van die spesifieke eienaarskap van hierdie bates nie.
LEES OOK: Verslag na Vrede-melkprojek nog nie uit
Vergrype
Voorts is daar ook gedurende die boekjaar 2015/’16 ongeveer R661 miljoen onreëlmatige uitgawes aangegaan en het die departement se ouditmening vanaf 2014/’15 se ongekwalifiseerde mening na 'n ongunstige ouditmening in die 2015/’16-boekjaar versleg.
Dit beteken dat die OG bevind het dat die departement van landbou se finansiële inligting wanvoorgestel en 'n onakkurate weërspieëling van die werklikheid is.
“Die Vrystaatse departement van landbou gaan gebuk onder growwe wanbestuur en blatante vergrype terwyl dit veronderstel is om landbou in die provinsie te stimuleer en ondersteun. Die ANC is besig om homself vas te steel en sal die wrange vrugte van sy handewerk eersdaags moet pluk,” sê Wessels.