
GWK Vleis, met sy belange in bees- en skaapslagplase, is ’n groot rolspeler aan die voorsieningskant van die Suid-Afrikaanse vleisbedryf. Die organisasie is ook die grootste enkele verspreider van lamsvleis met die Karoo-sertifiseringsmerk in Suid-Afrika en lewer ook gesertifiseerde nismark-skaapvleis met volle naspeurbaarheid aan ander kettingwinkelgroepe.
Volgens mnr. Wim van Rooyen, GWK se hoofbestuurder van veilings, vleis en supermarkte, voorsien GWK reeds ’n geruime tyd lamkarkasse aan Cavalier Foods, ’n volfiliaal van die Suid-Afrikaanse Cavalier-groep. Die vleis word versnit en versprei.
Die Cavalier-groep besit ’n verpakkingsaanleg wat ’n uitbreidingsgeleentheid in die vleisverwerkingsomgewing bied. Cavalier het ook onlangs begin met die bou van ’n nuwe verwerkingsaanleg by Cullinan buite Pretoria om sy bestaande verwerkingsvermoë te verhoog. Dié aanleg is ontwerp om verskeie lams- en beesvleissnitte te verpak deur die jongste tegnologie te gebruik.
“In die lig van ons reeds gevestigde sakeverhouding en strategiese belyning, het die partye ooreengekom dat GWK ’n belang in Cavalier se sake bekom om deel te vorm van die waarde wat verder in die ketting ontsluit kan word,” sê Van Rooyen.
Die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) is ’n sakevennoot van GWK en die Cavalier-groep en maak leningsfinansiering vir die projek beskikbaar. GWK Vleis is ’n volfiliaal van GWK Bpk., die Suid-Afrikaanse landboumaatskappy met sy hoofkantoor op Douglas in die Noord-Kaap.