
Mnr. Johann Klopper, GWK se finansiële direkteur, is Vrydag in die Life St. George-hospitaal in Port Elizabeth oorlede. Klopper (40) was amper 'n week in 'n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy op Jeffreysbaai tydens 'n vakansie in 'n rooftog beseer is.
Klopper is tydens die voorval van sy selfoon beroof maar het in die proses ernstige kopbeserings opgedoen. Selfs 'n noodoperasie, wat Sondag uitgevoer is in 'n poging om bloeding op sy brein te verlig, kon nie die skade voldoende beperk nie en Klopper is op 'n asemhalingsmasjien geplaas.
GWK het sy skok en hartseer op Facebook oor Klopper se dood uitgespreek.
“Dit is met ongelooflike hartseer dat ons vandag ons finansiële direkteur, Johann Klopper, aan die dood moes afstaan. Ons sal vir Bok onthou as ons kollega wat altyd tyd gehad het vir 'n grappie of 'n geselsie en hy laat 'n groot leemte in die GWK-gange.
Ons weet hoeveel mense hom gaan mis en ons harte is gebreek.”
Bron: Netwerk24