
Alternatiewe bemarkingsmoontlikhede stel produsente en rolspelers in die landbou in staat om regstreeks en onregstreeks aan die waardeketting deel te neem.
Mnr. Llewellyn Brooks, besturende direkteur van GWK, sê sy maatskappy het deur sy deelname aan veral die internasionale mark daarin geslaag om vir sy produsente baie beter pryse in die buiteland te beding.
Hy het op die jaarkongres van Vrystaat Landbou (VL) sy maatskappy se onlangse sukses in die waardetoevoeging in die landbou toegelig.
Vennoot in die landbou
“Jy kan dit nie alles alleen vermag nie. GWK is ideaal geposisioneer as vennoot in die landbou om die rol te vervul,” seg hy.
Volgens Brooks is die verwagte toekomstige groei op die vlak van die internasionale handel. Derhalwe gaan GWK sy internasionale bedrywighede uitbrei. Dit impliseer ook die verkryging van oorsese produkte wat nodig is vir die volhoubare lewering om oorsese kontrakte na te kan kom.
“Ons wil as ‘n klein speler met die multinasionale maatskappye op ‘n gelyke voet meeding. Ons droom groot genoeg en ons het die nodige kennis en vennote om ‘n sukses daarvan te maak,” sê hy.