
Mnr. Pieter Spies het sy posisie as besturende direkteur van GWK in ’n loopbaansprong vir dié van Tiger Brands se hoof van grane verruil.
Hy het die landbouprodusent-beheerde GWK die afgelope drie jaar tot nuwe hoogtes gevoer, veral met vertikale uitbreiding opwaarts in die voedselketting. Tiger, Suid-Afrika se grootste voedselmaatskappy, het aangekondig hy sal op 1 Februarie by hulle inval.
Intussen neem mnr. Pieter Bekker, GWK se uitvoerende hoof, in Spies se plek waar. Mnr. Frank Lawrence, GWK-voorsitter, het intussen benadruk dat hulle vol vertroue is dat die maatskappy ’n bekwame span leiers en die regte strukture in plek het om sonder onderbreking aan te hou om hul beplande strategieë in werking te stel.
Duidelike rigting
“Die besturende direkteure van GWK se drie bedryfseenhede het duidelike rigting, en die raad vertrou dat hulle, soos in die verlede, sal aanhou voortbou op die suksesse en goeie werk wat daar verrig word.”
Lawrence het Spies ’n inspirerende leier genoem, en gesê hulle is spyt oor sy vertrek, maar verstaan dat dit vir hom ’n groot geleentheid is om sy loopbaan te bevorder. GWK het reeds met die proses begin om ’n geskikte nuwe leier in sy plek aan te stel.
GWK het verlede jaar sy omset in een van sy beste boekjare tot op hede met 11,2% tot R8,34 miljard verhoog. Sy netto wins tot einde Mei 2016 was ondanks die ernstige droogte R148 miljoen.
Dit was ook ná aansienlike besteding aan infrastruktuur en die vestiging van nuwe bedrywe, soos hul Farm Foods-fabriek en –meule by Modderrivier in die Noord-Kaap, wat paste, meel en koekies aan die kleinhandel lewer. Dié aanleg word as die landboumaatskappy se grootste belegging tot nou toe beskou. Hul visie is om die waardeketting van die plaas tot op die bord te dek.
* Tiger is een van die top-maatskappye op die Johannesburgse Sekuriteiteberus, en spog met ’n verspreidingsnetwerk wat oor meer as 22 Afrika-lande strek. Sy graan-afdeling sluit verskeie handelsmerke van onder meer brood, mieliemeel, koringmeel, rys en hawermout in.