
Dit is “onbetwisbaar” dat die GWK die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) se reëls ten opsigte van Safex-kontrakte oortree het met die uitreiking van silokwitansies wat die Modderrivier-silo as afset- en storingspunt vir koring aangedui het, terwyl die koring in werklikheid op Douglas opgeberg is in ’n silo wat nie geregistreer is nie.
Die JSE het sy kommer uitgespreek oor dié gebeure, aangesien dit staatmaak op die integriteit van alle markdeelnemers van die JSE-kommoditeitsmark.
Nietemin dui die JSE volgens ’n verklaring aan dat die koöperasie nie sy status as geregistreerde silo-eienaar kwyt is nie. Die JSE het wel sekere voorwaardes aan GWK gestel, en sê die koöperasie het reeds sy samewerking bevestig.
Voorwaardes
Die eerste voorwaarde is dat GWK R20 miljoen aan die JSE moet bewillig as ’n waarborg vir ’n tydperk van 12 maande. Mnr. Chris Sturgess, direkteur van die JSE se kommoditeitsafdeling, sê dié bedrag moet nie aan die JSE uitbetaal word nie, maar dit moet beskikbaar wees sou enige nagevolge weens die gebeure by GWK voorkom.
’n Tweede voorwaarde is dat vier onafhanklike oudits oor die komende jaar by GWK gedoen moet word om die volume kommoditeite wat volgens Safex-kontrakte deur GWK opgeberg word, te verifieer.
Van die JSE se bepalings vir dié oudits is dat dit self die datums vir die oudits sal vasstel, en dat die oudits binne twee weke nadat die ouditeursfirma die JSE se versoek ontvang is, voltooi moet wees.
Intussen het die JSE bykomende prosesse ingestel om die integriteit en doeltreffendheid van sy markte te vir seker. Een van dié stappe is die publikasie van die opbergingsvermoë van elke leweringspunt, wat ook ’n databasis van die beskikbare opbergingsplek aan markdeelnemers sal bied.