
Ras moet uit die kwessie van plaasmoorde gehaal word, sê mnr. Bheki Cele, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
“Die mense wat doodgemaak is, is boere. Of hulle wit, swart geel, groen of pers is, ons sien boere wat aangeval word en ons benader dit so,” het Cele op 'n mediakonferensie van die departement gesê.
Die konferensie het eintlik oor bek-en-klouseer gehandel, maar joernaliste het Cele en mnr. Senzeni Zokwana, Minister, herhaaldelik gevra of hulle plaasmoorde ernstig opneem en wat hulle daaraan doen.
Beide het gesê hul departement se magte is beperk en dat plaasmoorde op 'n punt die verantwoordelikheid van die polisie word.
Cele het gesê uit 'n landbou-oogpunt word plaasmoorde beslis as ernstig beskou. “Ons kan nie toelaat dat die sterftes teen hierdie koers voortgaan nie.”
Volgens Zokwana behoort dit nie so te wees dat boere of plaaswerkers bang is nie. Hy het gesê meer harmonie moet in plaasgemeenskappe bewerkstellig word deur die skep van forums waarin boere, plaaswerkers en gemeenskappe om plase dien.
Cele het gesê goeie verhoudinge tussen boere en plaaswerkers is nodig asook vinnige reaksie van die polisie. Hy het lof gehad vir die polisie se vinnige reaksie op die moord op mnr. Malcolm "Stick" Green, 69, op sy plaas op 5 Januarie.
* AfriForum het Cele, in reaksie op sy uitlatings oor ras, daarvan beskuldig dat hy die publiek mislei oor die werklikheid op Suid-Afrika se plase en dat hy die pleidooi van diegene wat hulle vir die prioritisering van plaasmoorde beywer, nie ernstig opneem nie.
“In plaas daarvan om die noodsaak vir die prioritisering van plaasmoorde te erken, word valse beskuldiging van rassisme gemaak,” het mnr. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof, in 'n verklaring gesê.
“Die harde feite is dat die meerderheid boere wat vermoor word, wit is.
“Of dit so is bloot omdat die meeste boere wit is, of omdat daar ’n onderliggende rasmotief is, sal in hierdie stadium op spekulasie neerkom. Ons weet egter dat swart boere en plaaswerkers ook tydens plaasaanvalle vermoor word.”