
’n Klag van haatspraak, wat deur die Gelykheidshof aan AfriForum toegestaan is, sal later die week aan mnr. Ronald Lamola, waarnemende voorsitter van die ANC-jeugliga, beteken word.
Dié hof, wat in die Noord-Gautengse Hooggeregshof gesit het, het dié klag Maandag (9 Julie 2012) aan die organisasie toegestaan.
Luidens ’n verklaring volg dié klag ná opmerkings wat Lamola verlede maand gemaak het. Sy stellings het ingesluit dat die Jeugliga nie langer die veiligheid van “die Van der Merwes en Van Tonders” op hul plase kan waarborg nie as wit Suid-Afrikaners weier om vrywillig hul grond en minerale hulpbronne aan die meerderheid Suid-Afrikaners oor te dra.
Regspraktisyn
Volgens die organisasie praktiseer Lamola as prokureur in Pretoria. Dit is weens dié rede dat die organisasie die klag regstreeks by die Noord-Gautengse Hooggeregshof – die afdeling waar Lamola praktiseer – ingedien het.
Mnr. Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, sê die klag is ingedien omdat Lamola ras gebruik as ’n metafoor om ongelykhede in die samelewing te definieer, en dat dít baie gevaarlik is.
“Lamola is nie meer net ’n kommentator wat namens armes van die land praat en risiko’s uitwys nie. Hy het nou ’n aanstigter en pleitbesorger vir wetteloosheid en gewelddadige grondgryp-aksies geword,” lui die verklaring.
Lamola sal kans gegun word om op die klag te reageer.