
’n Verwoestende haelbui wat plaaslik as ‘fratsweer’ beskryf is, het tot 2000 hektaar se gesaaides in die distrik Clocolan in die Vrystaat weggeslaan.
Mnr. Hennie Vermaak, voorsitter van die Clocolan-landbouvereniging, sê die hael het Maandag rondom 16:00 begin uitsak.
Dié deel van die Oos-Vrystaat se reën kom tipies vanuit Bloemfontein se rigting.
“Dit was fratsweer wat heeltemal stroomop gewerk het as wat ons gewoonlik hier kry. Die bui het van Lesotho se kant af gekom en noordwes oor ons gebied beweeg,” sê Vermaak.
Groot skade aangerig
Volgens Vermaak is ten minste tien boere se oeste beskadig. “Enigiets tussen 1500 ha en 2000 ha het skade gekry. Een boer, mnr. Jan Groenewald, het op sy eie byna 1000ha skade gely.”
Die skade is hoofsaaklik aan sonneblomme, mielies, soja en aartappels aangerig.
Volgens Vermaak het talle van die boere nie oesversekering nie en hulle sal dus die skade moet absorbeer.
“Baie van die lande is 100% weggeslaan, ander het darem minder skade. Dié ouens waag kanse met versekering op veral mielies, omdat hy kwaai geslaan moet word voordat hy glad nie kan herstel van die skade nie. Ongelukkig was hierdie nou die een keer wat die hael regtig kwaai was.”
Vermaak sê dat die seisoen ten spyte van die haelskade ook groot belofte vir boere inhou. Die onlangse reën wat in die Oos-Vrystaat uitgesak het, het ’n stamelende seisoen omgedraai in wat hy ’n seisoen met baie potensiaal noem.
“Ons verwag goeie oeste van ons streek,” sê Vermaak.
Kyk hier na Vermaak se foto's van die skade.