
Vrugte- en wynboere langs die Eersterivier in Stellenbosch vrees dat hulle hul uitvoermarkte gaan verloor weens die toestand van dié rivier. Hulle beskou dit as ’n ekologiese ramp en ’n gesondheidsrisiko.
Mnr. Kallie Kirsten, wingerd-, sitrus- en peerboer van Stellenbosch, voer al sedert die 1990’s ’n vergeefse stryd hieroor met plaaslike owerhede. Sy seun, Freddie, het ook toegetree as kampvegter en die Facebook-groep Eersterivier/Rioolsloot gestig.
Die grootste besoedeling kom uit die Veldwachtersrivier wat deur die rioolsuiweringsaanleg vloei voor dit die Eersterivier bereik. Die rioolsuiweringsaanleg word nie goed in stand gehou nie en rou riool lek op minstens twee plekke deur krake in die damme en beland in die rivier, sê Freddie. Die rioolwerke kan 20 megaliter per dag verwerk, maar daar vloei daagliks 25 megaliter deur, volgens me. Gesie van Deventer, uitvoerende burgemeester van Stellenbosch Munisipaliteit.
Dra by tot besoedeling
Die Plankenburgrivier, wat deur die informele nedersetting Kayamandi loop, dra ook by tot die besoedeling.
“Tot aan die einde van my hoërskooljare het ons nog forel gevang en geswem in die rivier en gebraai op die oewer, maar nou is daar nie ’n halwe kans ek sit my tone in daardie water nie. Ek weet nie eers of daar nog vis is nie,” sê Kirsten. Benewens hope plastiekbottels en ander rommel, is daar ’n dik laag onwelriekende rioolslyk in die rivier. Dit raak gewoonlik effens beter wanneer studente huis toe gaan vir Desember-vakansies, maar vererger weer sodra hulle terugkeer.
Luidens ’n studie in 2013 deur prof. Trevor Britz, ’n voedselwetenskaplike by die Universiteit van Stellenbosch, is die vlakke van menslike ekskresie en siekteveroorsakende patogene in riviere rondom Stellenbosch “onaanvaarbaar” en “onhigiënies”.
“Die Eerste- en Plankenburgrivier se water voldoen dikwels nie aan internasionale of nasionale standaarde om varsprodukte veilig te besproei nie. Mense wat die riviere vir sport en ontspanning gebruik, loop die gevaar om siektes soos diarree, voedselvergiftiging en ’n verskeidenheid infeksies op te doen.”
Werk onverpoos
Van Deventer sê hulle is bewus van die erns van die situasie en werk onverpoos saam met rolspelers om omgewingsvriendelike oplossings in werking te stel. Volgens haar word die rioolsuiweringsaanleg tans teen sowat R410 miljoen opgegradeer om 35 megaliter per dag te hanteer. Die projek het reeds in 2015 begin. Dis die duurste projek in die munisipaliteit se geskiedenis.
VolgensKirsten is die gevorderde stelsels wat tans geïmplementeer word soos ’n vliegtuig sonder ’n loods. “Daar is nie mense wat dit kan bestuur nie. Dit help nie ons praat nie. Hulle steur hulle net nie aan ons nie en die situasie raak net erger,” sê hy moedeloos.
“Met beter bestuur kan die situasie met 80% verbeter. Ek sal dit in my lewe nooit kan aanvaar nie. Ek sal aanhou baklei, al verwag ons nie verandering nie. Die munisipale stelsels is so ellendig.”