Die internasionale gemeenskap sal moontlik genader word om voorstelle te bespreek oor die handel met renosterhorings.
Me. Edna Molewa, Minister vir Omgewingsake, het dié opmerking gemaak toe sy haar departement se begroting in die Parlement ter tafel gelê het. Volgens die nuutste syfers is 199 renosters al vanjaar onwettig vir hul horings doodgemaak.
Die Krugerwildtuin is steeds die grootste teiken met 119 renosters wat daar gestroop is. Die provinsies wat die meeste geteister word, is Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal.
Altesame 122 inhegtenisnemings is al vanjaar gedoen waarvan 104 stropers, 10 ontvangers van die horings en twee kopers daarvan was.
Molewa het gesê sy sal met plaaslike belanghebbendes vergader om nasionale konsensus te bereik oor voorstelle vir die Konvensie op die Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) se vergadering wat in Maart aanstaande jaar in Bangkok, Thailand, plaasvind. Die belanghebbendes sal veral hul mening oor die oopstel van handel in die horings moet lug.
Sy het ook aangedui dat ’n biodiversiteitsbestuursplan vir swartrenosters voltooi is. Tans kan slegs vyf swartrenosters jaarliks wettig gejag word.
Hierdie plan wat vir implementering gepubliseer sal word, sluit in pogings om die swartrenosterbevolking te vermeerder, wetstoepassing, prosedure vir onwettige jag en die beveiliging en monitering van opgegaarde voorraad renosterhorings.
Molewa het aangedui dat met China en Viëtnam saamgewerk word om smokkelary met renosterhoring hok te slaan.
3 Mei 2012