
Die komitee wat die moontlikheid moet ondersoek het nog nie met sy werk begin nie. Verlede jaar het 1 215 renosters aan die hand van stropers gesterf, met 1 004 in 2013, 668 in 2012 en 448 in 2011. Me. Edna Molewa, Minister van Omgewingsake, sê die getal is kommerwekkend hoog, maar gegewe die hoogs georganiseerde aard van sindikate, glo hulle dat die syfer hoër sou gewees het as daar nie ingrypings was nie.
Die voorafkeuring van die lede van die ondersoekkommitee is reeds voltooi, maar die finale veiligheidskeuring word nog deur die staat se veiligheidsagentskap gedoen, sê sy. Een van die take van dié komitee is om te kyk na die kwessie rakende of die handel met renosterhoring toegelaat moet word of nie.
Verlede jaar is 386 beweerde stropers in hegtenis geneem en teen die einde van Oktober was die skuldigbevindingskoers 50%. Molewa het uitgewys dat hulle nog vol voltroue is dat die geïntegreerde strategiese bestuur van die diere vrugte afwerp. Gemeenskappe begin nou eienaarskap neem van die groot taak om die renoster te beskerm en volhoubare wildboerdery toe te pas.
“Maar in die lig van stygende stropings, is dit duidelik dat die bestaande ingrypings versterk moet word.” Die sleutelaspekte van die geïntegreerde strategiese bestuur is om die renosterbevolking te bestuur, verpligte ingrypings, internasionale en nasionale samewerking en beplanning en langtermyn volhoubare maatreëls.
Gedurende die laaste kwartaal van 2014 is 56 renosters vanuit die Krugerwildtuin na intensiewe beskermingsones verplaas en 100 renosters is na twee lande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (Sadek) na beide regerings- en private reservate oorgeplaas. Mnr. Fundisile Mketeni, uitvoerende hoof van Sanparke, word beplan om vanjaar nóg 200 renosters te verplaas ter wille van die uitbreiding van die bevolking.