Die wettige handel in renosterhorings kan dalk as deel van ’n studie oor stropery ’n werklikheid in Suid-Afrika word, sê die Departement van van Waterwese en Omgewingsake.
Luidens ’n berig op Nuus24.com sê het mnr. Albi Modise, hoofdirekteur van kommunikasie, aan African Eye News gesê dié stap word oorweeg.
“Die opdrag vir die studie is gepubliseer en ’n diensverskaffer sal binnekort aangewys word,” sê Modise. Slegs die uitvoer van horings as deel van jagtrofeë word tans in Suid-Afrika toegelaat.
Volgens Modise wil die owerhede navorsing doen oor die wêreldwye mark vir renosterhorings.
Kanker
Die vraag na renosterhoring het toegeneem te midde van bewerings in Viëtnam dat dit kanker kan genees.
Renosterhoring haal duisende rande op die Oosterse swartmark, sê die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites). Cites reguleer die handel in renosterhorings.
Suid-Afrika het tot dusver vanjaar 309 renosters weens stropery verloor.
Die bedryf vra al ’n geruime tyd dat die handel in renosterhorings gewettig moet word. Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die private renostereienaars-vereniging (PROA), sê dit is hoog tyd dat die tendens waarvolgens renosters tans dood meer werd is as lewend, verander moet word.
Die Suid-Afrikaanse Jagtersvereniging het ook al ’n verklaring uitgereik waarvolgens hulle voorstel dat die wettige handel in renosterhorings stropery kan beperk.
Bron: Nuus24.com
4 Oktober 2011