
Klein- en groothandelaars moet ooreenkomste met groepe kleinskaalse boere aangaan en hulle finansier om die nodige tegnologie en toerusting te bekom om goeie produkte aan die mark te lewer, sê me. Sue Musunga van AGCO Zambië Ltd.
Sy was een van 'n paneel sprekers by die Ifama-kongres wat gekyk het na moontlike oplossings oor hoe om die boere te help om deel van die nasionale kleinhandel-verskaffingsketting te word.
Musunga het gesê dit is baie keer onbekostigbaar vir kleinboere om die nodige tegnologie of gereedskap aan te skaf om van hulle sake-onderneming ’n sukses te maak.
Daarom moet handelaars na die boere gaan en ooreenkomste met hulle aangaan. “Help hulle om hul opbrengste te verhoog en hulle produkte te verbeter wat na die mark moet gaan.”
Sy het gesê in Zambië het AGCO na die boere gegaan en self gaan hoor wat hulle probleme is en watter opleiding hulle nodig het. By die opleidingsentrum in Zambië, van die maatskappy wat bekend is vir sy landbougereedskap soos die Massey Ferguson, sal boere verskeie tegnologiese opleiding kry. AGCO het die 600 miljoen dollar in die opleidingsentrum ingestoot wat Desember vanjaar sal open.
Opleiding vir beide kommersiële en kleinskaalse boere sal hier gegee word. Opleiding sal gegee word in meganisasie en die res van die landbouspektrum soos gewasse, grond, besproeiing, oes en storing. Daar sal ook opleiding wees hoe om met hoenders te boer, asook hoe om graan te stoor en te hanteer.
Zambië het verlede jaar 40% van sy graan-oes verloor. “Na-oes verliese is prominent in meeste Afrika-lande,” het Musunga gesê.
Dr. Koos Botha, mede-eienaar van SALivestockG.A.P, het gesê hulle probeer om ’n inklusiewe skema daar te stel sodat elke boer, groot of klein, kan voldoen aan die voorskrifte wat die kleinhandelaars rakende voedselveiligheid soek.
Volgens hom het die kleinskaalse boere grootliks ’n ekonomiese probleem. “Hulle is gewillig om te voldoen aan alles om marktoegang te kry. Ek het heelwat gesien wat met regeringshulp begin het en dit nie kon maak nie. Opleiding en tegniese ondersteuning moet voortdurend plaasvind.”
Botha, ’n veearts wat groot varkplase bedien, het gesê selfs die groot boere het op ’n maandelikse basis insette van kenners nodig. “Jy kan nie ’n kleinskaalse boer laat begin en dan net los om op sy eie aan te gaan nie.”
SALivestockG.A.P en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het reeds verskeie samesprekings gehad oor hoe hulle SALivestock se program by kleinskaalse boere kan toepas. Die organisasie stel standaarde vir goeie landboupraktyke in die veebedryf.
Dit is vir die departement belangrik dat enige stelsel wat ingestel word, al is dit net oor voedselveiligheid, nie marktoegang van kleinskaalse boere moet belemmer nie. Ons sal ondersteuning aan die boere bied en probeer om ons koste so laag moontlik te hou. Die departement sal die skema vir die kleinskaalse boere finansier, het Botha gesê.