
Onteiening sonder vergoeding sal ernstige skade aan die ekonomie aanrig, sê mnr. Derek Hanekom, ANC-LP en oud-Minister van Landbou.
Hanekom, wat sy pos as minister van toerisme vroeër vanjaar in 'n kabinetskommeling verloor het, sê hy vra nie verskoning daarvoor dat hy sy gedagtes só sterk uitdruk nie.
Hy het by die 11de jaarlikse konferensie oor agribesigheid in Afrika, geborg deur Farmer’s Weekly, gesê sy enigste verskoning in dié verband is dat hy die woord “nonsens” by die ANC-beleidskonferensie gebruik het, wat mense aanstoot gee.
Hanekom en Gordhan
Hanekom en mnr. Pravin Gordhan, wat ook sy pos as Minister van Finansies in die kabinetskommeling verloor het, het albei by die konferensie gepraat.
Hanekom was Minister van Landbou en Grondsake toe mnr. Nelson Mandela president was. Hy sê hy het wit boere destyds gewaarsku hul grootste bedreiging is nie grondhervormingsprogramme nie, maar eerder dat dit nie suksesvol gedoen word nie. Zimbabwe is 'n voorbeeld van wat dán gebeur.
Volgens Hanekom het grond in die buurland 'n “populistiese leuse” geword en uiteindelik in die hande van “die elite – vriende en sogenaamde oorlogsveterane” beland.
Het nie so goed verloop nie
Suid-Afrika kan, en moet, volgens hom, erken dat grondhervorming die afgelope 23 jaar nie so goed verloop het as wat dit moes nie. Daar ís suksesverhale, en dit moet ontleed sodat dit herhaal kan word. Maar daar is ook baie voorbeelde van mislukking, en daar moet gevra word hoekom.
Om te sê dit was weens die gewillige verkoper en koper-beginsel, “is nonsens en verkeerde ontleding”.
Oor titelaktes vir begunstigdes van grondhervorming het Hanekom gesê dis 'n baie ingewikkelde situasie, onder meer weens bestaande stelsels in die voormalige tuislande.
Neem grond terug?
Verder is die moontlikheid in kommissies by die ANC-beleidskonferensie genoem dat grond teruggeneem moet word by begunstigdes wat dit nie gebruik nie.
Hanekom glo wel hervorming rakende verblyfsekerheid is nodig, en dat dit nie titelaktes hoef uit te sluit nie. Hy het die belangrikheid van grondhervorming benadruk. “Kamerade en vriende, sien eerstens die probleem raak en moenie dit ontken nie. Werk dan uit wat jy kan doen.
“Die grootste bedreiging is om nie die groot, rasgegronde ongelykhede te erken nie. Dit gaan nie oor witmonopoliekapitaal, of nié witmonopoliekapitaal nie. Dit gaan oor die nalatingskap van apartheid en die uitsluiting van swart mense in die ekonomie.”
Vra vennootskappe
Hy het die sektor aangemoedig om vennootskappe aan te gaan wat die landbou vinniger sal laat groei. Ook Gordhan het die landbou gevra om pro-aktief op te tree.
Met verwysing na die inisitiatief vir uitvoerende hoofde wat hy agttien maande gelede op die been gebring het, het hy gevra: “Wat is júl inisiatief? Ek hoop ek kan sommige van julle in aktiviste verander.”
Vir hom beteken “radikale sosio-ekonomiese transformasie” dat transformasie verder moet gaan as tevore, daar 'n groter sin vir dringendheid moet wees, dit meer konkreet en tasbaar moet wees, en 'n beduidende verskil in mense se lewens moet maak.