Landbou is die sektor wat die meeste deur klimaat geraak word en moet dus afsonderlik hanteer word in klimaatsonderhandelinge, sê die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-verenigings (Sacau).
Me. Stephanie Aubin, tegniese assistent vir beleidsontwikkeling by Sacau, het by die COP17-klimaatberaad in Durban gesê behoorlike ooreenkomste ten gunste van landbou is belangrik vanweë die sektor se groot bydrae tot voedselsekuriteit, werkskepping en die verligting van armoede.
“Landbou verdien spesiale aandag. Die belangrikheid van die sektor moet erken word en nuwe, innoverende maniere van finansiering moet ontwikkel word om landbou te help om by klimaatsverandering aan te pas en besoedeling te verminder.”
Landbou 'hoort op die agenda'
Mnr. Ishmael Sunga, uitvoerende hoof van Sacau, sê landbou hoort op die agenda vir klimaatsgesprekke omdat die huidige spoed en intensiteit waarteen die klimaat verander, meer is as die sektor se vermoë is om daarby aan te pas.
Mnr. Elwyn Grainger-Jones, ’n direkteur van die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling, sê klimaatfinansiering kan help om beleggings in volhoubare landbou en navorsing oor aanpassings te bespoedig.
Dit word bereken dat die jaarliks koste vir aanpassings by klimaatsverandering binne landbou in die ontwikkelende wêreld tussen sowat R56 miljard en R96 miljard per jaar beloop.
2 November 2011