
Baie werk lê in die volgende ses maande voor wat die groenskrif op grondhervorming se ontwikkelingsproses betref.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê hulle het kennis geneem van al die aankondigings wat op die ANC se beleidskonferensie gedoen is. “Geen radikale besluite is geneem nie, ons het die volgende ses maande vir onderhandelinge.”
Luidens ’n berig in Rapport is ’n voorstel vir grondplafonne op produktiewe landbougrond deur die kommissie vir grondsake goedgekeur. Verder is besluit dat die beginsel van ’n vrywillige koper en ’n vrywillge verkoper geskrap word.
Afgevaardigdes het glo aangedui dat nuwe onteieningswetgewing “vrek vinnig” afgehandel moet word. Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, is na bewering ook tot Desember gegee om die grondoudit af te handel.
Onteiening
Volgens die berig het die minister aangedui dat die nuwe onteieningswetgewing kan beteken wit kommersiële boere kan moontlik van hul produksiegrond verloor en onbenutte grond sal in die “openbare belang” onteien word. Grond wat deur restitusie ontvang is, maar nie gebruik word nie, sal ook daaraan onderwerp word.
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, sê die besluit oor grondplafonne is ’n groot terugslag vir boere. “Die grootste ouens (boere) is die seerste daaroor, want die werklikheid is dat 20% van die land se boere 80% van die kos produseer.” Hy sê verder :“Hoe is dit in die openbare belang om ’n deel van ’n suksesvolle plaas te onteien?”
Reuse-plase
Möller sê besprekings oor reuse-plase is al ’n tyd lank aan die gang. “Die landbou het begrip vir geweldige groot plase wat die platteland laat leeg loop.”
Hy sê ’n omslagtige proses is nodig om die plafonne vir verskillende bedrywe vas te stel, “en ek weet nie hoe hulle van plan is om dit te monitor nie. Dit gaan baie gekompliseerd wees.”
Afgehandelde eise
Intussen sê AfriForum 95% van die grondeise wat ingestel is, is reeds in 2009 afgehandel. Volgens die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se begrotingsverslag vir 2010 is 75 758 van die 76 696 eise reeds in Oktober 2009 afgehandel.
Mnr. Cornelius Jansen van Rensburg, ’n woordvoerder vir die organisasie, sê dít bewys dat kritiek deur pres. Jacob Zuma op die beginsel van ’n vrywillige koper en ’n vrywillige verkoper misplaas is.
“Daar bestaan geen regverdigbare rede waarom grondherverdeling op ’n ander grondslag as dié van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper kan plaasvind nie. Die enigste alternatief is onteiening sonder vergoeding. So ’n stap sou egter immoreel en politiek onregverdigbaar wees,” aldus Jansen van Rensburg.
Die organisasie het verlede week ’n veldtog teen die groenskrif op grondhervorming begin.
Bron: Rapport