
Terwyl plattelandse gemeenskappe landwyd groot probleme met vervalle paaie het en daar in verskeie provinsies gewag word om te hoor wat gedoen gaan word om paaie te herstel wat deur oorstromings beskadig is, wil die departement van openbare werke die helfte van Suid-Afrika se gruispaaie plavei.
Me. Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het gister die jongste inligting weergegee rakende die vordering met die projekte van die infrastruktuurbeleggingsplan.
Volgens haar is die mikpunt om die helfte van die land se 592 000 km gruispaaie binne drie jaar te plavei.
Pres. Cyril Ramaphosa het in 2020 die staat se volhoubare infrastruktuurontwikkelingprogram aangekondig wat die land moet help om sy ekonomie te herstel in die lig van die covid-19-pandemie wat wêreldwyd grootskaalse ekonomiese probleme meegebring het.
Suid-Afrikaanse padnetwerk beslaan sowat 750 000 km. Dit is die tiende langste padnetwerk in die wêreld.
Dit bestaan uit ’n kombinasie van geteerde en ongeteerde paaie, met sowat 592 000 km ongeteer. Dit sal R5,3 triljoen kos om die hele ongeteerde netwerk op te knap.
Arbeidsintensiewe metodes sal gebruik word sodat werk geskep kan word en die werkloosheidsyfer kan daal, het De Lille gesê. Daarom sal stene vir die opknapping en onderhoud van die landelike paaie bekom word van plaaslike verskaffers in die distrikte waar die paaie is. Die landelike paaieprogram sal meestal die landelike provinsies soos die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en die Vrystaat dek.
Grond
Rakende grond wat beskikbaar gestel is vir grondhervorming, het De Lille gesê dat haar departement sedert Mei 2021 125 eiendomme vir verhuring goedgekeur het. Dit is meer as 25 500 ha landbougrond in alle provinsies.
Sedert Mei 2019 het die departement 204 eiendomme, wat meer as 28 845 ha beslaan, in verskeie provinsies vir restitusie beskikbaar gestel. Rakende verblyfsekerheid is 189 ha grond en titelaktes in Mei 2021 aan die Tafelkop-boere in Limpopo gegee.