
Die Regering het namens plaaswerkers ’n aandeel in die 326 jaar oue Solms-Delta-wynlandgoed naby Franschhoek verkry as deel van die 50/50-beleidsraamwerk om die regte van plaaswerkers te versterk. Dis die eerste ooreenkoms in sy soort in die Wes-Kaap.
Sowat 180 plaaswerkers en plaasbewoners, wat lede is van die Wijn de Caab-trust, besit nou die helfte van Solms-Delta se grond en die onderneming. Die ander eienaars is die gevestigde wynboere prof. Mark Solms (Zandvliet-Delta-boerdery) en mnr. Richard Astor (Lubeck-Delta). Die transaksie, teen ’n onbekende bedrag, raak 54 ha.
Solms het al in 2001, toe hy die plaas gekoop het en lank voordat mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, die 50/50-beleid aangekondig het, besluit plaaswerkers moet ’n aandeel in die hele boerdery hê.
“Toe die 50/50-beleid aangekondig is, het ons reeds ’n drieledige eienaarskapsooreenkoms gehad tussen myself, die buurplaas en die plaaswerkers wat op albei plase woon,” het Solms tydens die bekendstellingsgeleentheid gesê. Hulle het toe die departement met ’n voorstel genader.
‘Meer sal volg’
Hy meen dit is belangrik om Suid-Afrika se pynlike verlede van grondonteiening en gedwonge verskuiwings aan te roer. “Ons moet tot ’n vergelyk kom oor almal se belange. Daar moet iets in wees vir almal. Ek meen die 50/50-beleid is die pad vorentoe.”
Volgens me. Linda Page, Nkwinti se woordvoerder, is dit die eerste 50/50-ooreenkoms in die Wes-Kaap. “Ons verwag dat meer daarvan sal volg,” sê sy. Sy beskryf die projek as ’n rolmodel vir ander plase. Me. Sanna Malgas, een van die Wijn de Caab-trustees, was aanvanklik Solms se huiswerker. Sy is intussen bevorder tot gasvrou van wyn, musiek en erfenis op die plaas en begelei toere en bied wynproeë aan.
“Op ’n plaas is jy gewoonlik die een wat moet luister, maar by sommige van ons geleenthede kan ons nou ons eie besluite neem. Ons het nou meer van ’n sê en ek kan ’n beter bydrae lewer.” Malgas het die 50/50-ooreenkoms as die trustees se baba beskryf.
“Ons moet nou die babatjie grootmaak. Ons sien baie uit na die toekoms en om van die projek ’n sukses te maak.” Die Wijn de Caab-trust financier onder meer die skoolopleiding van plaaswerkers se kinders, ’n crèche en ’n nasorg waar kinders huiswerk en projekte kan doen.