
Die Nylkurper of -tilapia is ’n indringer-visspesie wat wyd in Suid-Afrika (SA) voorkom, en die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) wil, met die hulp van Suid-Afrikaners, die verspreiding van dié spesie in die land se damme en riviere bepaal.
Dié projek maak deel uit van die WNNR se strategiese omgewingsevalueringsprojek (SOE) vir die ontwikkeling van akwakultuur in SA, wat hy namens die Departemente van Omgewingsake en Landbou, Bosbou en Visserye hanteer. Die projek vorm ook deel van Operasie Phakisa, sê me. Lizande Kellerman, projekbestuurder.
Jy kan help
Die doel is om, met behulp van GPS-koördinate, ’n verspreidingskaart van bevestigde vangste of waarnemings van die vis op te stel, en dit met gebiede wat deur die SOE-proses uitgeken is as gepas vir nuwe visboerdery-ontwikkeling, te vergelyk.
“Die WNNR wil dus graag ’n beroep op Suid-Afrikaners doen om ons te help om inligting bymekaar te maak, in die vorm van GPS-koördinate, indien moontlik, sodat ons ’n beter begrip kan kry van waar die Nylkurper tans voorkom. Hierdie opname-inligting sal ook dien as ’n basisinset vir ’n nasionale biodiversiteitsinisiatief wat deur Departement van Omgewingsake in samewerking met die Suid-Afrikaanse nasionale biodiversiteitsinstituut onderneem gaan word,” sê Kellerman.
Die sperdatum om dié inligting in te samel is 30 September 2017. Klik hier om die vorm vir die projek in te vul.