
Die staat is die grootste grondeienaar in Suid-Afrika en daarom behoort grondhervorming by regeringsgrond te begin.
Só het dr. Mathews Phosa, wat in April genomineer is as ANC-president, tydens Agri Wes-Kaap se jaarkongres by Goudini Spa naby Rawsonville gesê.
“Die Regering moet mooi gaan dink oor hoe hy ongebruikte staatsgrond kan verdeel. Die grond wat net gebruik word deur militêre magte wat oefen vir ’n oorlog wat nie kom nie, moet vir die mense gegee word. Ek is ernstig daaroor, dis my siening oor die emosionele kwessie van grond.”
Uitsprake oor grond
Phosa sê hy het ’n “groot, groot” probleem daarmee as mense ongrondwetlike uitsprake maak oor grond.
“Ek was een van die mense wat die Grondwet help optrek het. Toe ons by Kodesa was, het ons baie voorbeelde in Afrika gesien waar grondhervorming nie uitgewerk het nie. Ons het toe gesê ons moet slim wees en ’n proses definieer hoe grond van een hand na ’n ander beweeg. As mense my uitvra oor grondvergrype, vra ek hulle hoekom hulle nie na die Grondwet kyk nie. Dis die rigtinggewende bybel hieroor. Daar is goed wat jy kan doen, en goed wat jy nie kan doen nie.”
Phosa sê die Grondwethof sal Suid-Afrikaners beskerm teen optrede wat strydig is met die Grondwet. “Enigiemand kan populisties wees as hulle wil, maar dis nie leierskap nie. Ons moet by hou by die Grondwet.”
Haal emosie uit grond
Leiers moet juis help om emosie uit die grondvraagstuk te verwyder. “Enige leier, of dit nou die president of wie ook al is, moet kalm en koelkop bly as ons oor grond praat en beleid formuleer. Ons moenie populisties wees nie; dis net om petrol op die vuur te gooi. As politici moet ons gematig wees in wat ons sê en goeie verhoudings tussen boere en plaaswerkers bevorder. Ons is nie mekaar se vyande nie, maar vennote. Dís die oplossing tot die grondprobleem,” meen Phosa.
Hy het ook beklemtoon hoe belangrik dit is om mense op te lei om kommersiële boere te word. “Ons het nou meer mense wat grond ontvang, maar wat doen hulle daarmee? Dit raak ’n probleem. Ons moet dit vanuit ’n kommersiële oogpunt benader. As ons vir iemand ’n stuk grond gee, moet ons weet wat hulle daarmee gaan doen,” sê Phosa, wat gespog het dat hy ’n A-simbool vir landbou in matriek gekry het, en dus die rol van die landbou “baie goed” verstaan.