
Vleispryse het die afgelope tyd tot só ’n mate gestyg dat ’n verbruikersweerstand verwag kan word as kleinhandelaars nie bereid gaan wees om ’n kleiner winsmarge te neem nie, sê mnr. Chris Troskie, hoofbestuurder van lewendehawe-bemarking van CMW.
Die prys van speenkalwers het binne ’n maand met meer as 10% gestyg en behaal tans weer tot R34/kg op die hoef. Die slagprys van C-graad skaapvleis het van R50/kg tot R58/kg gestyg. In die geval van A2 en A3-lam het die prys van sowat R68/kg tot R78/kg opgeskiet. Dit is die hoogste prys nog vir lammers in die land.
Troskie sê die prysstyging is oor die hele land waarneembaar. Hy skryf dit toe aan ’n kritieke tekort aan bemarkbare diere en die rekord mielie-oes. ’n Baie goeie vraag bestaan ook na koeie met kalwers, wat tot R15 000 gemiddeld behaal.
Droogte duur egter voort
Volgens hom duur die droogte voort in die Karoo, Klein-Karoo en die Noord-Kaap, met Calvinia en omgewing wat die swaarte getref word. “Danksy die goeie wol- en vleispryse kan veeboere wat nie deur die droogte geraak word egter weer ’n slag glimlag.”
Op sosiale media het boere ook wyd kommentaar gelewer op die hemelhoë pryse wat vir vee betaal word. Sommige deelnemers op Facebook, en wat mielies verbou, is naarstigtelik op soek na vee wat hulle op die oesreste wil afrond. Boere wat onlangs vee verkoop het, het op húl beurt gespog met die uitstaande pryse wat hulle ontvang het. Die meeste deelnemers aan die debat het nietemin bedenkinge gehad of verbruikers die rakpryse sal kan bekostig en hoe volhoubaar die uitstaande pryse gaan wees.