
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê gemeenskapslede het die polisie ingelig dat hulle die verdagte langs die R329-pad tussen Wolwefontein en Steytlerville gesien het.
Die verdagte het vermoedelik die boer, wat alleen op sy plaas woon, op 22 Januarie omstreeks 20:30 aangeval. Volgens Naidu het die boer sy honde hoor blaf, maar nie na buite gegaan nie. Terwyl hy in sy woonkamer gesit het, het ’n onbekende man by die huis se agterdeur ingekom en gevra vir diesel vir sy voertuig wat glo 5 km van die plaas af gaan staan het.
Die boer het 2 liter diesel uit sy garage gaan haal en aangebied om die verdagte na sy voertuig te vat. Toe hulle op die bestemde plek aankom, was daar geen voertuig nie.
Die boer en die verdagte het terug na sy plaashuis gery en die verdagte het die boer gevra om hom dorp toe te neem. Die boer het ingestem.
Die verdagte het die boer vir ’n vuurwapen gevra omdat hy bang was dat hy in die informele nedersetting aangeval sou word. Die boer het geweier om dit vir hom te gee. Die verdagte het kwaad geword en die boer met ’n asbak en ’n biltongkerwer geslaan.
Die boer het toe toegegee en sy 9 mm-pistool aan hom oorhandig. Die verdagte het die boer se hande en voete vasgebind, sy hemp in die boer se mond gestop en hom na ’n kamer gesleep.
Die verdagte het toe met die boer se bakkie van die toneel gevlug. Die polisie het die bakkie later by die plaas se ingang gevind nadat die boer hulle ontbied het.
Inwoners van Steytlerville het op Woensdag 25 Januarie omstreeks 12:30 ’n hemplose man langs die R329-pad sien stap en hom voorgekeer. Hy het bloed aan sy jeans gehad.
’n Foto van die man is aan die boer gestuur wat die man, asook ’n gordel wat die man by hom gesteel en aangehad het, herken het. Die polisie is in kennis gestel en die man is in hegtenis geneem.
Die verdagte verskyn vandag in die Steytlerville-landdroshof op aanklagte van huisbraak en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Daar word steeds na die boer se pistool gesoek.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.