
Die Hereford-vleisbeesras is vanjaar vir 100 jaar in Suid-Afrika en die aanloop van die eeufeesvieringe het afgeskop met ’n bekendstellingsfunksie by mnr. Bertus Mong, voorsitter van die SA Hereford-telersgenootskap en bekende Herefordteler by Villiersdorp. Die feesvieringe sal tydens vanjaar se Swartland-skou op Moorreesburg ’n hoogtepunt bereik.
Die hoogtepunt van die vieringe duur vanaf 6 tot 9 September by die Swartland-skou, en internasionale gaste en Herefordtelers vanoor die hele wêreld sal dit bywoon. Hulle sal ook aan toere deelneem om plaaslike Hereford-telers te besoek. Vanjaar se SA Hereford-kampioenskappe vind ook tydens die Swartland-skou plaas.
Volgens ou dokumente is die heel eerste Herefordbul, Southern Cross, in 1892 deur ene mnr. George Moorcroft in die land ingebring, en in 1903 is nog 27 koeie en vier bulle deur die destydse Transvaalse owerheid ingebring en by Potchefstroom aangehou.
Die ras se amptelike grondslag is egter in 1917 in die land gesetel deur die stiging van die SA Hereford-telersgenootskap, wat rigting aan telingsdoelwitte en -norme gegee het.
Mong sê feesvieringe in September sal – behalwe die SA Kampioenskappe – onder meer ’n gala-aand insluit waartydens die trotse geskiedenis van die ras oor die afgelope eeu in die land aandag sal geniet, asook ’n karkaskompetisie.
Kry meer inligting by die SA Hereford-telersgenootskap in Bloemfontein by 051 410 0958 en herford@studbook.co.za.
Kyk hier na die vieringe se program.