
Boere se gesindheid teenoor veiligheid, hoë vlakke van wetteloosheid, die polisie se onvermoë om landelike gebiede te beveilig en onverantwoordelike uitsprake deur politici en vakbonde. Dit is alles faktore wat bydra tot hernieude probleme met veiligheid op plase in Noordwes, sê mnr. Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes.
Altesame 17 plaasaanvalle het sedert November verlede jaar in die provinsie plaasgevind. Die jongste was Sondag naby Zeerust.
Du Toit sê dit is nie net plaasaanvalle wat toeneem nie, maar ook veediefstal.
“Veediefstal was in die jongste tyd ’n groot probleem, met voorvalle in die Molopo-gebied, noord van Vryburg, asook naby Lichtenburg en Ventersdorp. In een voorval is 63 beeste gesteel. Dit is vir baie boere byna hul hele boerdery,” sê Du Toit. “Omdat boere weens die droogte hul veegetalle verminder het, is die impak van veediefstal op ’n boerdery se winsgewendheid en lewensvatbaarheid baie ernstig. Boere kan dit eenvoudig nie bekostig om vee te verloor weens veediefstal nie.”
Wees bewus van sekuriteitsgevare
Boere se ingesteldheid teenoor die beveiliging van hul plase, is ook ’n krisispunt. “Baie boere is bewus van die veiligheidsbedreiging en is weerbaar op hul plase. Daar is egter ook boere wat nie die nodige beskermingsmaatreëls instel nie en wat ongeërg is oor plaasveiligheid. Hierdie houding kan toegeskryf word aan ’n ‘kan-nie-met-my-gebeur-nie-sindroom’,” sê Du Toit.
Hy sê sukses met voorkomende optrede laat boere se bewustheid van veiligheidsgevare vervaag, wat daartoe lei dat veiligheidsmaatreëls verslap word. Hy sê gemeenskapsbeveiligings- en gebeurlikheidsplanne is grootliks agtermekaar, maar dat basiese beginsels in die boer se eie huishouding agterweë bly.
“Talle boere het glad nie ’n noodplan in hul eie huise nie. Dit is noodsaaklik, want dít is waar die aanval ontstaan en waar die punt van kontak is.”
Du Toit stel voor boere moet ’n sisteem aanskaf waar die inwoners ’n alarmknoppie by hulle dra sodat dit in die geval van ’n aanval geaktiveer kan word om persone in die huis en die plaaslike ondersteuningstelsel te laat weet dat hulp benodig word.
“Dit moet byderhand wees. Dit help nie dit is iets wat jy moet gaan haal nie.”
Hy sê daar is talle suksesverhale in dié provinsie waar mense in hegtenis geneem is danksy ’n vroeë alarm wat kon verseker dat paaie gesluit kon word en omliggende hulpstelsels in posisie kom.
Swak beveiliging deur polisie
Hoë vlakke van misdaad, algemene wetteloosheid en die polisie se onvermoë om ondersoeke met sukses uit te voer, dra by tot dié situasie. Du Toit sê aanvalle word telkens uitgevoer, deels met die doel om waardevolle artikels te steel, met veral kontant en wapens in rowers se visier.
“In twee onlangse gevalle is daar baie jaggewere gebuit. Ons het gevind dat hierdie wapens, veral die grootkaliber-wapens, aan renosterstropers verkoop word. Daar is groot geld daarin.”
Uitsprake van politici en vakbonde oor grondhervorming en ’n negatiewe sentiment teenoor boere, skep ’n klimaat van onverdraagsaamheid teenoor die landbougemeenskap. Du Toit het hom ten sterkste daarteen uitgespreek.
“Die uitsprake skep die indruk dat boere boos is en dat hulle met reg aangeval en vermoor kan word. Boere word ’n ‘wettige’ teiken en brutaliteit neem toe. Rassistiese uitsprake vuur ook hierdie mense aan.”
Du Toit beklemtoon dat die suksesvolle implementering van die landelike veiligheidsplan, ’n polisiemag met verbeterde gesag, dissipline, behoorlike bevel en beheer, asook boere se eie aandeel in die beveiliging van hul plase en omgewings, die situasie ten opsigte van veiligheid heelwat sal verbeter.