
Die Vrystaatse landbougemeenskap het die afgelope naweek wéér onder plaasaanvalle deurgeloop, met 'n boer van die distrik Clocolan sowel as twee werkers van die distrik Kroonstad wat in aanvalle beseer is.
Mnr. Nikki Haddad van die plaas Howie naby Clocolan is Sondagmiddag deur twee mans op sy plaas ingewag en aangeval ná hy op sy plaaswerf gestop het. Haddad is in sy been en armholte gewond en die verdagtes het die toneel verlaat na hulle hom beroof het.
Haddad het alarm gemaak en die plaaslike veiligheidsnetwerk het in werking getree. Die polisie se honde-eenheid het die omgewing ondersoek maar die verdagtes is steeds op vrye voet. Haddad is tans in 'n hospitaal op Bethlehem.
Nog voorvalle
'n Bende van 10 rowers het ook twee plaaswerkers op die plaas Delportsrus aangeval en aangerand. Die werkers is aangehou terwyl 14 sonpanele met batterye, sowel as ander toerusting, ter waarde van R200 000 gesteel is.
In 'n voorval buite Reitz het mnr. Jasper Naudé van die plaas Delsville Sondagoggend 'n onbekende man op sy plaas betrap. Die man het twee honde op die erf doodgemaak maar het op die vlug geslaan toe Naudé en sy vrou van die kerk af tuisgekom het.
Beveiliging
Vrystaat Landbou het in 'n verklaring gesê kommersiële en opkomende boere, sowel as plaaswerkers en -bewoners, is teikens van misdaad op Vrystaatse plase. Die organisasie het boere aangemoedig om hulself so goed as moontlik te beveilig.
"Ons wil landbouers aanmoedig om deel te word van hulle plaaslike veiligheidstrukture en om so ver moontlik paraat te wees vir verdagte omstandighede, gebeure, persone of voertuie en hulle strukture ingelig te hou daarvan,” het mnr. Henk Vermeulen, bestuurder van Vrystaat Landbou, gesê.