
Hernubare energie-projekte kan samewerking tussen kommersiële en opkomende boere verbeter, sê Mainstream Suid-Afrika. Mnr. Davin Chown, besturende direkteur van Mainstream Renewable Power Suid-Afrika, meen projekte vir hernubare energie kan ook lei tot verhoogde produksie in baie gebiede.
Die maatskappy het Donderdag (24 Maart) met die samewerking van verskeie ander rolspelers die stigting van ’n energiekonsortuim in Johannesburg aangekondig.
“As daar ’n gebied is waar byvoorbeeld windturbines op kommersiële en opkomende boere se plase opgerig word, bied dit dié boere ’n unieke geleentheid om saam te werk en werksgeleenthede in die omgewing te skep. Dit bied aan die boere ook ’n bykomende inkomste wat hulle kan aanwend om hul bedrywe uit te brei,” verduidelik Chown.
Nadelige impak?
Chown sê hernubare energie-projekte, soos windturbines en sonpaneelparke, het nie, soos wat baie rolspelers in die bedryf tans glo, ’n nadelige impak op produksie nie. “Inteendeel, dit kan produksie bevoordeel en verhoog deur ’n alternatiewe inkomste aan boere te bied. ’n Veeboer kan dus nog vee aankoop of ’n saaiboer sal nog grond kan bekostig om meer graan aan te plant.”
Hy sê hulle ondervind veral uitdagings om die Regering die voordele van die projekte, veral met die samewerking van die landbou, te laat insien.
Droogfontein
Die Droogfontein-gemeenskap, wie se plaas 28 km buite Kimberley in die Noord-Kaap geleë is, is ’n voorbeeld van die voordelige invloed wat so ’n projek op ’n boerdery kan hê.
Mnr. Ceronio Mogorosi, voorsitter van die Droogfontein-gemeenskapseiendomsvereniging, sê die sonpark wat oor die volgende twee jaar op hul plaas van 12 000 ha opgerig sal word, is ’n belegging van sowat R7,2 miljard op hul grond en boerderypraktyke.
“Na verwagting sal dié sonpark tot 200 megawatt krag per jaar kan opwek, en tydens die konstruksie daarvan sal dit tot 1 500 tydelike werksgeleenthede vir twee jaar skep. Sowat 150 en 200 heeltydse werksgeleenthede sal geskep word vir personeel om dié park te bestuur nadat dit opgerig is,” vertel Mogorosi.
Hy sê die eerste huurkontrak wat Mainstream Suid-Afrika met hulle aangegaan het, is vir 20 jaar, en hulle hoop op ’n hernuwing vir ’n tweede tydperk van 20 jaar.
“As deel van ons ooreenkoms sal ons as Droogfontein-gemeenskap, sodra ons trust gestig is, ook hulp aan ander opkomende boere moet verleen om hul boerderye uit te brei.” Mogorosi sê hulle plant tans 400 ha groente en die gemeenskap se veegetalle staan tans op 200 stuks.
24 Maart 2011