Produsente en verbruikers se vertroue in varsproduktemarkte moet herstel word vir dié markte se voortbestaan, sê verteenwoordigers.
Mnr. Peter Matthews, hoof operasionele beampte vir Kaapstad Mark, sê sonder die vertroue van produsente en verbruikers kan die bedryf nie oorleef nie.
“En ons moet oorleef. Ons sal oorleef, want ons is die agente vir die land se daaglikse produkprys. En ons bedien ook die armer deel van die gemeenskap, met goedkoper produkte en deur werk te skep, veral in informele nedersettings,” het Matthews verduidelik.
Hy sê die bedryf loop ook die gevaar om ’n afsetplek vir tweede- en derdegraadse produkte te word, soos baie mense reeds daarna verwys.
Matthews het ook vrae oor hoekom die varsproduktemarkte in 1992 van 60% tot 65% van die land se varsproduk-aanbod verhandel het, terwyl dit tans op tussen 30% en 45% staan.
Kanaal
Intussen het mnr. Mark du Plessis, hoof uitvoerende beampte van Aartappels SA, ’n beroep op die bedryf gedoen om met integriteit sake te doen. Hy beskryf die bedryf as die kanaal wat die voedselaanbod van Suid-Afrika met die voedselverbruikers kan verbind.
Volgens Du Plessis kan die situasie in die land vergelyk word met ’n droë plaas wat naby die Katse-dam in Lesotho geleë is.
“Jy kan genoeg water vir die hele wêreld hê, maar daar is steeds mense wat onder droogte gebuk gaan. Daar is ’n dam van voedsel in Suid-Afrika en miljoen mense wat elke dag honger ly. Ek sien die markte as die kanaal om dié dam van kos aan alle verbruikers beskikbaar te stel.”
Du Plessis het sy toespraak tydens die 2011 AllFresh-konferensieafgesluit met: “Geen boer, geen kos. Geen kos, geen toekoms. Geen kos lei tot geen markte, wat gelyk is aan geen lewe en geen toekoms.”
28 Oktober 2011