
Meer mense gaan van nou af toegang tot water kry, het die Minister van Waterwese en Sanitasie, me. Nomvula Mokonyane, tydens haar begrotingstoespraak gesê.
"Ongelyke toegang tot water laat ongelykheid voortbestaan. Ons gaan in hierdie boekjaar met alle Suid-Afrikaners saamwerk om die beskermde ruimte oop te maak om te verseker dat water as 'n natuurlike hulpbron vir almal beskikbaar is en gedeel kan word. Dit sluit inwoners van dorpe, townships, bevoordeeldes van grondhervorming naby die myne en nuwe nywerhede in."
Sy het gesê dis baie belangrik dat Suid-Afrikaners deelneem aan die watersektor. Daarom gaan hulle seker maak dat deelname aan water- en sanitasieforums verteenwoordigend is. Hulle beplan ook om in die eerste week van Augustus 'n beraad oor twee dae te hou. Tydens die beraad gaan almal wat 'n belang by water het, byeenkom en uitwerk hoe watersake voortaan hanteer sal word.
Volgens Mokonyane besef hulle dat elke munisipale gebied unieke wateruitdagings stel, maar dat sekere probleme, soos die instandhouding van verouderende infrastruktuur, die gebrek aan tegniese kapasiteit wat kan verseker dat water beskerm, bewaar en volhoubaar bestuur word, asook die kapasiteit om infrastruktuur te gebruik en in stand te hou, regoor die land bestaan.
Sy het aangekondig dat 'n kapitale belegging van sowat R670 miljard oor die volgende tien jaar benodig word vir nuwe water- en sanitasie-infrastruktuur en om bestaande infrastruktuur op te knap. Sowat 45% daarvan sal uit die begroting kom, maar die res moet uit ander bronne verkry word.
Die totale begroting van die Departement van Waterwese en Sanitasie vir die 2014/'15-boekjaar is R12,48 miljard.