Die Kabinet het die nuwe voorgestelde Wetsontwerp op Verblyfsekerheid goedgekeur en die publiek kry nou die geleentheid om daarop kommentaar te lewer.
Dié wetsontwerp wil volgehoue beskerming bied vir plaaswerkers en –bewoners en wil ook ‘n ondersteuningsraamwerk skep vir volhoubare lewensonderhoud vir dié mense.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het vroeër aangedui dat konsepwetgewing oor die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid en Verblyfreg (Esta), die Wet op die Voorkoming van Onwettige Uitsettings en Onregmatige Besetting van Grond (PIE) en die Wet op Huurarbeiders verbeter sal word, sodat plaaswerkers beter beskerm kan word.
Hy het ook al voorheen aangedui dat die idee is om bestaande wette oor grond in ‘n “enkele omnibus-wet” te herskryf.
Ingesluit in die nuwe voorgestelde Wetsontwerp op Verblyfsekerheid is dat die Staat bystand wil verleen om mense op alternatiewe grond te vestig, maatreëls te bied wat verblyfsekerheid verseker, volhoubare lewensomstandighede en dissipline te bewerkstellig.
Soos in die Groenskrif waaroor Landbouweekblad al uitgebreid berig het, word in die nuwe wetsontwerp aangedui dat ‘n Bestuursraad vir Grond gestig moet word.
Verder bied die voorgestelde wetsontwerp oorgangsbepalings onder Hoofstuk 3 van die Wet op Grondhervorming van 1996.
Die Kabinet het ook die wetsontwerp op die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, die Wetsontwerp op Arbeidsdienste en die Wetsontwerp op Gelyke Indiensneming goedgekeur vir publieke kommentaar.
10 Desember 2010