
Mnr. Izak Smalman het aan Landbouweekblad geskryf oor die onrus in Coligny:
In middel April vanjaar het daar ’n paar flouerige betogings op Coligny in Noordwes uitgebreek. Dit het eintlik vanaf Lichtenburg oorgespoel, waar die inwoners ook oor dienslewering betoog het. Albei dorpe word deur die Ditsobotla-munisipaliteit bedien.
Toe raak dit bekend dat twee boere van die omgewing na bewering ’n seun na die polisiestasie vervoer en die seun toe van die bakkie geval en gesterf het. Die betrokke seun was aan die boere én die betogers onbekend en selfs die oorledene se ouers het nie geweet waar hy hom bevind het nie.
Die boere wou glo die seun na die polisiestasie neem nadat hulle hom in ’n sonneblomland betrap het waar hy glo sonneblomme wou steel. Hierdie nuus was net die vonk waarop die betogers gewag het.
Volwassenes en kinders – insluitend kinders wat op skool met ’n voedingskema aan die gang gehou word – het die dorp binnegevaar. Die drie drankwinkels in die dorp, asook die kroeg in die enigste hotel, is gestroop om die betogers op te warm.
’n Huis met diere daarin is afgebrand, sakegeboue en infrastruktuur is verwoes en 18 skape wat in ’n kampie by ’n vervoeronderneming aangehou is, is met lammers en al weggedra. Coligny, eens bekend vir sy ou stoomtreine, windpompe en graansilo’s, is in puin gelê en geen onderneming kan funksioneer nie.
Hoeveel mense is nou werkloos en hoeveel groot gesinne gaan honger ly? Die boere van die omgewing, wat in groot mate die dorp aan die gang hou, moet noodgedwonge hul sake na ander naburige dorpe verskuif. Die betogers gaan voort en het met geweld gedreig as die twee boere, wat nou weens moord aangekla word, borgtog sou kry. (Die boere is toe verlede week op borgtog vrygelaat en geweld het inderdaad opnuut uitgebreek. – Red.)
Die beginsel in Suid-Afrika is dat Regeringsamptenare en hooggeplaaste ondersteuners van die Regering wat van ernstige misdrywe verdink word, onskuldig geag word totdat hulle skuldig bevind word. Dit lyk nie of hierdie beginsel op boere van toepassing is nie.
Nou vra talle mense of dit die moeite werd is om iemand in hegtenis te neem vir die diefstal van ’n paar sonneblomkoppe of selfs ’n paar sakke vol sonneblom. Stel jou egter in die posisie van ’n boer. Moet hy nou ná ’n paar jaar se droogte maar sit en toekyk hoe sy lande gestroop word? (Die polisie op Coligny het bevestig dat die betrokke boere vantevore vermeende graandiewe na die polisiestasie gebring het.)
Ek glo dat die aangeklaagde boere reeds onder die indruk verkeer het dat hul voortbestaan op die plaas in gedrang is. Dit is vir my duidelik dat hulle self moes inspring om hul inkomste te beveilig, maar nou is hulle deur die menigtes skuldig bevind nog voor enige verhoor plaasgevind het.
Dit sal ’n bespotting van Suid-Afrika se regstelsel maak as enige hof hom deur geweldenaars laat voorskryf.