
Vir motoriste wat gereeld op die N1 deur De Doorns ry, is dit ’n bekende toneel: Vrugtesmouse wat al langs die pad staan en bokse vol geurige groen, pers en rooi druiwe in die lug swaai – genoeg vir enige druiweliefhebber om dadelik rem te slaan en ’n boks of twee vir die langpad te koop.
Maar vir plaaslike inwoners bly dit ’n nimmereindige probleem.
Want dié tyd van die jaar, gedurende die druiwe-oesseisoen, kry die trosse druiwe voete . . .
Dit is ’n jare lange probleem wat aangevuur word elke keer wanneer ’n motoris langs die pad stilhou om druiwe by smouse te koop, net om later ’n slagoffer van ’n fyn beplande rooftog te wees.
In die nadraai van die vakansietyd het die Wes-Kaapse polisie gesê rooftogte in die Hexriviervallei het die hoogte ingeskiet.
Kapt. Dalikhaya Mandlelize, bevelvoerder van die polisiekantoor op De Doorns, sê verskeie motoriste het langs die pad stilgehou om druiwe te koop net om druiwe- én beursieloos daar weg te ry.
“Motoriste het druiwe by die druiwesmouse probeer koop, maar is in die proses beroof van persoonlike besittings soos beursies, handsakke, selfone en skootrekenaars.”
Mandlelize sê dit is moeilik om presies te bepaal hoeveel rooftogte daar die afgelope feestyd in die gebied plaasgevind het, omdat die meeste slagoffers besluit om eerder weg te ry as om tyd te bestee om ’n klag by die polisiekantoor te maak.
Tafeldruifboere vra motoriste om druiwe en ander vrugte eerder direk by die produsente of gevestigde padstalle te koop as om hul lewe in gevaar te stel.
Mandelelize sê hoewel die polisie patrollies het wat gereeld deur die area beweeg om druiwesmouse stop te sit, is dit nie genoeg om die probleem in die kiem te smoor nie.
Steun plaasstalletjies
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê verbruikers moet aangemoedig word om plaasstalletjies te ondersteun omdat die informele sektor ’n belangrike rol speel met die verkoop van vrugte en groente.
“Verbruikers moet nie ongemagtigde verkopers langs nasionale paaie ondersteun nie en moet hul eie diskresie gebruik om vas te stel of ’n plaasstalletjie wettig is of nie. Vra vir hul permitte aangesien alle plaasstalle een moet hê om wettig te kan funksioneer,” beveel hy aan.
“Vrugtediefstal is ’n massiewe probleem. Verbruikers moet hul bes doen om boere op ’n wettige wyse te ondersteun.”
Sosialemediagebruikers het op die SABC News Western Cape Facebookblad ook hul misnoe? oor die druiwesmouse en die rooftogte in daardie gebied uitgespreek.
“Dit het 10 jaar gelede al met my gebeur. Hulle gryp jou beursie dan hardloop die kinders agter die dief aan. Hulle bring jou beursie terug, sonder die kontant natuurlik, en eis ’n beloning. Die kinders raak later deel van die hele bedrogspul,” skryf Glynis Jennings.
Keith Manter skryf: “Daar is ’n groot kennisgewingbord dat motoriste nie langs die pad moet stilhou om gesteelde druiwe te koop nie. As jy beroof word, is dit dus jou eie skuld.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.