Die toekoms van 27 saai- en veeplase in Mpumalanga is moontlik in gedrang weens planne om vir aardgas te eksploreer deur hidrobreking in die opvanggebied van die Vaalrivier.
Die maatskappy Umbono doen glo tans, volgens mnr. Clive Machingaifa, woordvoerder, aansoek om prospekteerregte in die gebied, aldus Beeld. Die Petroleum-agentskap van Suid-Afrika (Pasa) neem die besluit oor of mynregte aan die maatskappy toegestaan sal word.
Boere in dié omgewing is glo reeds van die voorneme in kennis gestel en die openbare deelnameproses begin binnekort. Die gebied wat geraak word lê tussen Davel, Morgenzon, Bethal en Ermelo.
Steenkool en aardgas
Dié deel van Mpumalanga het nie net groot steelkoolneerslae met ondergrondse metaangas nie, maar lê ook in die Vaalrivier se opvanggebied.
Hoewel daar groot steenkoolneerslae in die gebied is, is dié neerslae te diep vir oopgroefmyne en maak die teenwoordigheid van metaangas ondergrondse myne gevaarlik.
Mnr. Leon van Tonder, voorsitter van die Davel-boerevereniging, sê die boere wat geraak word, gaan Maandag ’n noodvergadering oor die saak hou.
Bron: Beeld
25 Oktober 2011