Die verdienste van hidrobreking in gereguleerde toestande vir die eksplorasie van skaliegas in die Karoo word oorweeg.
Die verdienste van hidrobreking in gereguleerde toestande vir die eksplorasie van skaliegas in die Karoo word oorweeg, sê die Departement van Omgewingsake.
Luidens ’n berig op News24.com sê me. Nosipho Ngcaba, direkteur-generaal: ”Dit wil vanuit ons oogpunt as ’n departement, voorkom of uitsonderlike eksperimentele werk wat in hoogs gereguleerde toestande onderneem moet word, verdienste het.”
Ngcaba het in die parlement gesê dié standpunt is gegrond op geskrewe bydraes deur die interdepartementele taakspan wat deur me. Susan Shabangu, Minister van Energie, aangestel is om die omstrede mynmetode te ondersoek.
Ngcaba het deelgeneem aan die departement se begrotingsrede. Volgens Ngcaba moet al die voorstelle en bevindings nou deur Shabangu oorweeg word, voor die finale verslag aan die parlement voorgelê word.
Duidelikheid
Ngcaba sê haar departement het wel gevra vir duidelikheid oor ’n paar kwessies soos die presiese tegnologie wat gebruik sal word om skaliegas te ontgin. Verder het die departement spesifiek gefokus op die belangrikheid daarvan dat varswaterbronne in die droë Karoo nié besoedel mag word nie.
Die departement is ook begaan oor die invloed wat die gebruik van skaliegas in Suid-Afrika op die land se kweekhuisgasprofiel sal hê. Me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, het aan joernaliste gesê Shabangu “weerhou nie (tans) die verslag nie, maar finaliseer ’n paar dinge waaraan aandag geskenk moet word.”
Bron: News24.com
3 Mei 2012