
Die aanslag op die Karoo se skaliegas-skatkis het vergroot met nog ’n maatskappy wat sy aansoek vir ’n lisensie om te prospekteer ingedien het. Challeger Energy, ’n “junior” onderneming van Australië, besit luidens ’n berig op MininingWeekly.com 95% van Bundu Gas & Oil Exploration wat die eerste aansoek ingedien het.
Die ander 5% van Bundu word deur mnr. Don Ncube, die onderneming se swart ekonomiese bemagtigingsvennoot, besit. Shell en Falcon wag al ’n geruime tyd om te hoor of hulle die gasvoorrade van die Karoo mag verken.
Opwindend en belowend
Bundu se belangstelling het ontvlam nadat Soekhor, die staat se prospekteringsmaatskappy, al vroeër vir skaliegas in die Karoo geboor het. “Toe hulle die skaliegas binnegedring het, het hulle so ’n skok van die gas gekry dat die ventalisiestelsel vir die uitblaas geaktiveer moes word sodat die gas na die oppervlak kon vloei. Dit is ’n ongelooflike opwindende en belowende vooruitsig,” aldus mnr. Robert Willis, besturende direkteur van Challenger Energy.
Die maatskappy fokus nou op een van die vinnig groeiende skaliegas-provinsies ter wêreld, die Karoo, wat die staat se planne vir ekonomiese groei, werkskepping en energie ondersteun. Hy sê hy is daartoe verbind om die wêreldstandaarde van beste praktyk aangaande skaliegasontginning en hidrobreking na te kom.
Terwyl die maatskappy wag om te hoor of sy aansoek goedgekeur sal word, is hy besig met gesprekke met strategiese vennote. “Hierdie is absoluut die plek om nou op te fokus. Dit is nou 'n buig-of-bars-vooruitsig vir 'n maatskappy,” sê Willis.