Voorvalle van siektes, dood of probleme met voortplanting onder dier en mens in Amerika kan luidens ’n verslag aan hidrobreking toegeskryf word.
Luidens ’n berig op die webwerf The beef site het die twee skrywers van die verslag onderhoude met diere-eienaars in ses verskillende state in Amerika – Colorado, Louisiana, New York, Ohio, Pennsylvania en Texas – gevoer.
Prof. Robert Oswald, ’n kenner van molekulêre medisyne aan die Cornell-kollege van veeartsenykundige medisyne, en dr. Michelle Bamberger, ’n veearts, sê hulle het 24 gevalle in die ses state gevind waar diere se gesondheid vermoedelik deur hidroliese breking geraak is.
’n Regstreekse verband tussen dié mynmetode vir skaliegas en die voorvalle kon weens verskeie redes – soos onvolledige toetsing of regskwessies – nie bewys word nie.
Gevallestudies
Van boere wat aan die gevallestudies deelgeneem het, het glo tot 70 beeste verloor nadat hulle aan vloeistowwe komende van die hidroliese brekingsproses blootgestel is.
Nog ’n boer het sy trop in twee gedeel. Altesaam 60 koeie is in ’n veld waar afvalwater ingepomp word ingejaag, terwyl 36 op ander weiveld aangehou is. Van die 60 koeie het 21 gevrek en 16 het in die volgende kalftyd geaborteer. Van die 36 koeie het een weens gesondheidsprobleme gevrek en net een het nie gekalf nie.
Die kenners het ’n hele reeks aanbevelings op grond van die verslag gemaak, maar wat sentraal staan is dat meer toetse vir voedselveiligheid en meer navorsing gedoen moet word op diere in dele waar die mynmetode toegepas word.
Bron: The beef site
19 Maart 2012