
'n Rekord-kanola-oes, ’n volle 25% groter as verlede jaar se rekord-oes, kan vanjaar geproduseer word as die weer saamspeel.
Die Oesskattingkomitee reken in sy eerste produksieskatting vir wintergewasse dat die nasionale kanola-oes vanjaar bykans 139 500 ton kan beloop teenoor die vorige seisoen se 112 000 ton, wat die vorige grootste Suid-Afrikaanse kanola-oes was.
Dié groter oes is danksy uitgebreide aanplantings, wat vanaf 72 165 ha verlede jaar tot vanjaar se 90 000 ha uitgebrei het. Die uitbreidings is in pas met die sterk en konstante groei in Suid-Afrika se kanolabedryf die laaste 15 jaar. In 1998 het boere in totaal maar nog sowat 17 000 ha geplant, waarvan 21 000 ton geoes is.
Die kanola-uitbreidings is in teenstelling met die tanende koringbedryf. Die Oesskattingkomitee se jongste ramings wys dat koring-aanplantings vanjaar net 468 000 ha beloop, wat heelwat minder as 2013 se 505 000 ha is.